Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US groet Aspeling ná jare se diens
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 05/12/2016

'n Hele generasie Matie-studente ken mnr Johann Aspeling as die Universiteit Stellenbosch (US) se Registrateur. Maar sy lang pad saam met die US het reeds as student begin in hierdie dorp waarvoor hy oneindig lief geword het.

Aspeling tree Vrydag (9 Desember) af ná jare lange diens aan die US.

Hy het op 'n plaas tussen Loxton en Victoria-Wes in die Karoo grootgeword. "Ons was 14 leerders in matriek. Toe ek in 1972 op Stellenbosch opdaag om BCom te studeer is ek in Hombré-koshuis (waar die Absa-gebou vandag in Pleinstraat is) geplaas omdat dit die enigste koshuis was waar ek en my broer Peter saam plek kon kry."

Van toe tot 1978 was hy 'n student en het sy MCom en Hoëronderwysdiploma (HOD) verwerf. Hy was onder meer vir twee jaar primarius van Hombré, die Studenteraad se tesourier en later voorsitter, én het boonop vir die koshuis se Sauerbeker-rugbyspan uitgedraf en vir Maties se eerste tafeltennisspan gespeel.

"Ek was ten volle 'n Matie. Ek het in 1977 my vrou, Estelle, hier ontmoet," vertel Aspeling, wat drie kinders – seun St. Clair (getroud met Maryke), en dogters Mariné (getroud met Huibert) en Elzanne (wat in Maart 2017 met Stefan trou) – asook vier kleinkinders het.

Aspeling het in 1979 by die destydse Afdeling Toelating en Losies begin werk, ook by die buitemuurse afdeling klasgegee, en in 2001 het hy prof Serf Kritzinger as Registrateur opgevolg.

"Die US se Registrateur is die hoof van die Afdeling Akademiese Administrasie, wat onder meer verantwoordelik is vir die toelating en registrasie van studente, advies aan studente wat hul program- en vakkeuse betref, opstel van klas- en eksamenroosters, die bestuur van die eksamens in samewerking met die fakulteite en die reël van gradeplegtighede," beskryf hy sy werk.

Daarby ingesluit is ook die verantwoordelikheid vir die bestuur, interpretasie en hersiening van die US se beleide, reglemente, prosedure, die US se Statuut, en die Wet op Hoër Onderwys, asook vir regsdienste en die institusionele sekretariaat.

Veral tegnologie het in Aspeling se tyd 'n groot invloed op die werksaamhede van die Registrateursafdeling gehad.

"Toe ek as Registrateur aangestel is, was selfone byna uitsluitlik gebruik om oproepe te maak en te ontvang. Ons het in daardie stadium slegs per pos met studente gekommunikeer en selfs nog telegramme gestuur. Studente is met die hand geregistreer en moes daarom in lang toue staan."

Deesdae word daar per e-pos, sms of via die US-webblad met studente gekommunikeer, en meer as 80% studente registreer aanlyn.

Maar wat omtrent sy werk het hy die meeste geniet, en wat was van die grootste uitdagings?

"As lid van die Rektorsbestuurspan was ek deurlopend betrokke by die bestuurs- en besluitnemingsprosesse van die US en dit was vir my bevredigend om ingelig en daarby betrokke te wees, hoewel dit uiteraard ook soms uitdagend was.

"Om oor die jare by studente betrokke te wees was baie stimulerend en bevredigend. Wat ek nie sal mis nie, is die meer as 100 e-posse wat daagliks in my inmandjie beland en wat dikwels ná ure beantwoord moet word," voeg hy by.

Aspeling het onder ses US-rektore gewerk, waaronder die laaste vier as registrateur: Proff Jannie de Villiers, Mike de Vries, Andreas van Wyk, Chris Brink, Russel Botman en tans Wim de Villiers. En dan het hy ook onder vier raadsvoorsitters as registrateur gedien: mnr Desmond Smith, drr Edwin Hertzog en Paul Cluver, asook mnr George Steyn.

As Registrateur het Aspeling na aan die rektore gewerk, en van elkeen se werkswyse bly iets hom by. 

"Prof Van Wyk met sy regsagtergrond het die US op 'n uiters bekwame wyse bestuur. Prof Brink was 'n rektor wat goed voorberei het vir vergaderings en nie daarvan gehou het om af te wyk van 'n beplande agenda of werkwyse nie.

"Prof Botman was as teoloog 'n vredemaker wat, soos met sy HOOP-projek, na die gemeenskap uitgereik het. Ek moet noem dat prof Leopoldt van Huyssteen as waarnemende rektor ná die afsterwe van prof Botman op 'n uiters bekwame wyse vir nege maande deur 'n moeilike tyd die US bestuur het.

"Prof Wim De Villiers is nie net uiters slim nie," spot hy met verwysing na De Villiers se bynaam, "Slim Wim", "maar ek beleef hom ook as 'n uiters bekwame rektor wat deur deelnemende bestuur die US lei."

As Aspeling nou terugkyk oor sy jare lange band met die US, is daar vele hoogtepunte – te veel om op te noem. Tog sê hy: "Die US-kampus is sekerlik een van die mooiste in die wêreld en ek het gesien hoe die tuine oor die jare heen verfraai en bome aangeplant is om die kampus mooi te maak. Vandag pluk ons die vrugte van hierdie inisiatiewe. Geboue is nie net in stand gehou nie, maar ook opgegradeer om moderne elektroniese onderrigfasiliteite te huisves."

Ook wat onderrigmetodes en navorsing betref, het die US groot vordering gemaak, meen Aspeling.

Einde Desember 2016 lê hy die tuig neer en gaan vir eers op Vleesbaai saam met sy gesin vakansie hou. "Daarna gaan ek my vrou help om ons dogter Elzanne se troue te reël, dan Krugerwildtuin toe om saam met vriende vakansie te hou, voordat ons begin om te woel en werskaf op my grootword-plasie in die Karoo."

Waarna hy egter die meeste uitsien, is om saam met sy vrou al die dinge te doen waarvoor daar weens werk nooit genoeg tyd was nie. "Daarna sal ons Liewe Vader wat ons lewe tot hiertoe gerig het vir ons wys wat op die pad vorentoe moet gebeur," sê hy.

"Ek wil my opregte dank teenoor die US uitspreek vir die groot voorreg wat ek gehad het om die grootste deel van my lewe hier te kon wees. Ek het dit geniet en indien ek oor kon kies, sou ek dit weer wou doen."

Foto: Stefan Els