Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Weer rekordgetal doktorsgrade vir US
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 04/12/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar weer ʼn rekordgetal doktorsgrade tydens sy Desember gradeplegtighede toe – 138 vergeleke met die 127 van Desember 2015.

Grade en diplomas word volgende week (6-9 Desember) tydens nege verskillende plegtighede aan meer as 5300 Matiestudente toegeken. Sewe van die plegtighede word in die Coetzenburgsentrum gehou, terwyl twee geleenthede, vir die toeken van doktorsgrade, in die Endlersaal in die Konservatorium in Victoriastraat plaasvind.

Vier eregrade word op Vrydag 9 Desember toegeken: Die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, word toegeken aan die meningsvormer, bemiddelaar en versoeningsagent, dr Franklin Sonn; die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, aan die sakeleier, dr Johan van Zyl; die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, aan die Namibiese politikus en "vredesmakelaar", mnr Dirk Mudge; en die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, aan die baanbreker in rekenaarwese, satelliet-tegnologie en die ingenieurswese, prof Jan du Plessis (sien inligting onder).

Du Plessis word vereer vir sy volgehoue innoverende bydraes tot die rekenaarwese en satelliettegnologie waarmee hy talle ingenieurstudente geïnspireer het, die grondslag vir ʼn vooruitstrewende tegnologie- en gerekende mikrosatellietbedryf in die land gelê het, en die Universiteit Stellenbosch én Suid-Afrika wêreldwye aansien besorg het. Mudge word vereer vir sy vernuftige dog beskeie leierskap in diens van sy land, sy uitnemende veranderingsbestuurvermoëns, en sy rol om as vredesmakelaar en handelaar in hoop op die vasteland, onafhanklikheid vir Namibië en versoening tussen wit en swart Afrikane te fasiliteer; Sonn vir sy rol in die transformasie van onderwys en opleiding, sy internasionale bydrae as beeldbouer van die land, sy werk as beginselvaste sakeman en onbaatsugtige gemeenskapsleier, en sy betrokke burgerskap wat die Suid-Afrikaanse samelewing na geregtigheid vir almal help stuur het; en Van Zyl vir sy leierskap om honderdduisende aandeelhouers se beleggings op 'n volhoubare groeipad te plaas, vir sy sosiale verantwoordelikheid om die laerinkomstemark by die formele ekonomie te betrek, en vir sy visie om die weg vir die land se eerste volwaardige swart finansiëledienstemaatskappy te baan.

COETZENBURGSENTRUM:

  • Dinsdag 6 Desember om 10:00 (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) en om 17:30 (Opvoedkunde, Teologie en Krygskunde).
  • Woensdag 7 Desember om 10:00 (Fakulteit Regsgeleerdheid en ʼn eerste groep studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en om 17:30 (AgriWetenskappe en Ingenieurswese)
  • Donderdag 8 Desember om 10:00 (Lettere en Sosiale Wetenskappe) en om 17:30 (vir ʼn tweede groep studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe).
  • Vrydag 9 Desember om 10:00 (Fakulteit Natuurwetenskappe) en eregrade.

ENDLERSAAL, KONSERVATORIUM:

  • Woensdag 7 Desember om 14:00 (doktorsgrade in die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid, Teologie en Ekonomiese en Bestuurwetenskappe).
  • Donderdag 8 Desember om 14:00 (doktorsgrade in die Fakulteite Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe, Ingenieurswese, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en Krygskunde)

Die US vereer ook tydens gradeplegtighede vooraanstaande akademici en ander personeellede verbonde aan die Universiteit. Die ontvangers van Kanselierstoekenning is, mnr Eben Mouton, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe;  dr Therina Theron, Afdeling Navorsingsontwikkeling; prof Eli Bitzer, Fakulteit Opvoedkunde; prof Geo Quinot, Fakulteit Regsgeleerdheid; prof Michael Samways, Fakulteit Agriwetenskappe; prof Anton Basson, Fakulteit Ingenieurswese; prof Rufus Gouws, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe; prof Anton van Niekerk, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe; prof Ronel du Preez, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; prof Servaas van der Berg, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; prof Bert Klumperman, Fakulteit Natuurwetenskappe; prof Leon Dicks, Fakulteit Natuurwetenskappe

Parkering op Stellenbosch

Druk verkeer word op al die hoofroetes na Stellenbosch en in die dorp verwag. Graduandi, ouers en vriende word dus vriendelik aangeraai om liewer vroeg te arriveer om verkeersknope te vermy en parkering te kry.

Graduandi met gestremdhede of graduandi wat weens beserings nie by die komende gradeplegtighede oor die verhoog kan beweeg nie, is baie welkom om me Nikki Malan, tel 021 808 3729 of e-pos nikkimalan@sun.ac.za te kontak vir hulp met spesiale reëlings.