Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studiegeld styg met 8%; aanvullende huisvestingsbeurse vir arm studente
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 28/11/2016

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandag (28 November 2016) die instelling se geïntegreerde begroting vir 2017 eenparig goedgekeur. Die begroting maak voorsiening vir 'n algemene styging van 8% in studiegeld en 'n styging van 10% in huisvestingsgeld. Studente uit gesinne met 'n jaarlikse huishoudelike inkomste van minder as R600 000 sal aanstaande jaar egter presies dieselfde studie- en huisvestingsgeld as in 2015 en 2016 betaal.

Met die goedkeuring van die begroting het die Raad sy teësinnigheid uitgespreek om studie- en huisvestingsgeld te verhoog, maar bygevoeg dat dit nie anders kan nie aangesien sy beheer- en toesigrol bepaal dat die langtermyn- finansiële volhoubaarheid van die instelling van oorwegende belang is.

"Die akademiese uitnemendheid van die US, ons voorsiening van beurse en steundienste moet vir toekomstige geslagte behoue bly, maar ons ondersteun heelhartig die Universiteitsbestuur se standpunt dat akademies verdienstelike studente uit arm en werkersklasgesinne substansiële finansiële bystand behoort te ontvang," het mnr George Steyn, voorsitter van die Universiteitsraad, gesê.

Daarom het die Raad goedkeuring verleen vir 'n huisvestingsbeurs vir die styging van 2% benewens die 8% (aanvullende finansiering wat deur die regering toegesê is) vir studente uit gesinne met 'n gesamentlike huishoudelike inkomste van minder as R600 000 per jaar (die sogenaamde 'verlore middelgroep' of missing middle). Danksy die aangekondigde aanvullende staatsfinansiering en die US-huisvestingsbeurse sal studente in hierdie inkomstekategorie nie enige verhoging in studie- en huisvestingsgeld hê nie.

Die styging van 10% in huisvestingsgeld was noodsaaklik weens die Universiteit se besluit om 'n beleid van lewensvatbare kontraktering te volg ná studenteprotes in 2015. Die Universiteit voorsien aanvullende finansiering aan uitgekontrakteerde werkers om te sorg dat hul totale indiensnemingskoste (cost to company) op R5 000 per maand te staan kom, presies dieselfde as dié van Universiteitspersoneel op 'n vergelykbare posvlak.

Verlede jaar het die Universiteit Stellenbosch beurse en lenings ter waarde van R658,7 miljoen bestuur, waarvan R115 miljoen uit sy hoofbegroting gekom het. Sowat 38% van alle voorgraadse studente – en 70% van voorgraadse swart, bruin en Indiërstudente – ontvang finansiële ondersteuning.

Mnr Steyn het beklemtoon dat die Universiteit, as 'n nasionale bate, 'n waardevolle bydrae tot die land lewer.

"Ons lewer gesogte gegradueerdes op, handhaaf 'n hoë navorsingsuitset, en voorsien innoverende studentesteundienste. Teenoor die gemiddelde eerstejaardeursetsyfer van 50% in Suid-Afrika, gaan meer as 85% van ons studente voort met hulle tweede studiejaar. Voldoende finansiering is 'n voorvereiste om met sulke steundienste vol te hou, wat op sy beurt ons studente bystaan om hulle studies te voltooi. Die instelling dra dus die koste van steundienste sodat studente hulle studiekoste so laag as wat prakties moontlik is, kan hou.

"Die US ondersteun bekostigbare hoër onderwys vir arm studente, maar totdat voldoende staatsfinansiering ʼn werklikheid word, steun ons 'n gedifferensieerde benadering met die klem op finansiële bystand vir akademies verdienstelike, arm studente ondersteun. Beursfonds-werwing van die privaat sektor is ook 'n voorrangsaak vir die Universiteit."

Mnr Steyn het bygevoeg dat regeringsinisiatiewe geloof behoort te word en dat die Universiteit Stellenbosch sy volle samewerking gee om na volhoubare oplossings te soek.

"Ons deel die werklike kommer van arm en werkersklasgesinne oor die styging in studiegeld en die algemene lewenskoste. Daarom sal die Universiteit alle moontlikhede ondersoek om te voorkom dat akademies verdienstelike studente weens hulle sosio-ekonomiese agtergrond van studiegeleenthede uitgesluit word," het hy gesê.