Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lewis Pugh inspireer US se vroeë-loopbaan navorsers en navorsingsmentors
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 28/11/2016

Die wêreldberoemde swemmer, maritieme prokureur, kampvegter vir oseane en die Verenigde Nasies se beskermheer van oseane, Lewis Pugh, het onlangs sommige van die Universiteit Stellenbosch (US) se mees belowende vroeë-loopbaan navorsers met ʼn praatjie by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gemotiveer en geïnspireer.

Dié jaarlikse samekoms van vroeë-loopbaan navorsers en hul mentors word deur die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) aangebied om die prestasies van hierdie wetenskaplikes te vier en die mentors te bedank vir hul betrokkenheid en toewyding om die kapasiteit van jonger navorsers te ontwikkel.

Van die US se jong navorsers wat deur die Nasionale Navorsingstigtig (NNS) geëvalueer is, asook direkteure van Sentrums van Uitnemendheid en bekleërs van SARChI-leerstoele wat uitstekende rolmodelle vir vroeë-loopbaan akademiese personeel is het vanjaar se geleentheid bygewoon.

Pugh het sy eie ervarings gedeel as die enigste persoon wat `n langafstandswem in elk van die wêreld se oseane aangepak het om bewustheid te kweek oor die kwesbaarheid van ons oseane en hul belangrikheid vir die mensdom. Hy het die gehoor aangemoedig om dit waaroor hulle sterk voel onbeskaamd en dapper na te jaag.

Pugh het in die verband beskryf hoe hy `n suksesvolle veldtog geloods het vir `n globale ooreenkoms om die Ross See in Antarktika as die grootste beskermde marienegebied in die wêreld te verklaar -`n ooreenkoms wat vir vyf jaar deur Rusland geveto is.

Pugh het die uitsonderlike rol wat navorsing kan speel om ons wêreld te verbeter uitgelig, en die bydraes van mentors in sy eie persoonlike ontwikkeling en prestasies beklemtoon.

Die ontwikkeling van die US se volgende generasie navorsingsproduktiewe akademiese personeel is `n belangrike institusionele prioriteit, en `n aantal programme in die omgewing van die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies ondersteun hierdie strategiese imperatief.

Vir die afgelope ses jaar het die ANO `n eksterne befondsde mentorskapsprogram bestuur om die loopbaanontwikkeling van die US se vroeë-loopbaan akademici te ondersteun.

Gedurende hierdie tydperk het 140 vroeë-loopbaan akademici daarby gebaat om met `n spesifieke navorsingsmentor saam te werk wat advies kon gee en hulle kon help om onafhanklike navorsers te word. `n Aantal van die vroeë-loopbaan navorsers het onlangs NNS-evaluerings ontvang, terwyl ander hul doktorsgrade voltooi het.  

  • Vir meer inligting oor die ANO se navorsingsmentorskapsprogram, kontak dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, by 021 808 4624 of ttheron@sun.ac.za of me Fadwha Patel, Koördineerder van die US mentorskapsprogram by ANO, by 021 808 9325 Fadwha@sun.ac.za.   

Foto: Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie, Lewis Pugh, en prof Paul van Helden, Direkteur: Sentrum van Uitnemendheid in Biomediese TB-navorsing, by STIAS.

Fotograaf: Maléne Fouché