Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fees van laserfisika by die US
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 14/11/2016

Meer as 50 nagraadse studente in laserfisika vanuit Afrika en internasionaal gaan gedurende November 2016 op die Universiteit Stellenbosch toesak vir die negende Afrika Laser Sentrum (ALC) se twee werkswinkels.

Die ALC is 'n vlagskipprogram van NEPAD wat by die WNNR se Nasionale Laser Sentrum gehuisves word. Die doel van die ALC is om navorsing in laserfisika en ander opties-verwante navorsing in Afrika aan te moedig, sowel as die uitruil van navorsers en studente tussen Afrika instellings.

Vanjaar se twee werkswinkels word deur die Lasernavorsingsinstituut in die US se Departement Fisika aangebied.

Werkswinkel vir ALC beurshouers

Die negende ALC werkswinkel vir ALC beurshouers sal van 24 tot 26 November 2016 by die Stellenbosch Instituut vir Gevorerde Studies (STIAS) aangebied word. Die doel van die werkswinkel is om ALC beurshouers en vennote vanoor die hele Afrika byeen te bring.

Pof. Erich Rohwer, hoof van die Departement Fisika en sameroeper, sê tydens die program sal studente geleentheid gebied word om aanbiedings oor hul werk te doen en met projekleiers te skakel.

"Ons het ook tydgleuwe bepaal waartydens die studente mekaar beter kan leer ken en om idees uit te ruil," voeg hy by.

Verskeie prominente internasionale navorsers sal tutoriale aanbied, waaronder prof. Tony Parker en sy kollegas dr. J. Bernardino de la Serna, prof. S Botchway en prof. P.M. Donaldson van Rutherford Appleton in die Verenigde Koninkryk, sowel as dr. A. Heidt van Bern Universiteit in Switserland.

Die gassprekers is prof. Halina Rubinsztein-Dunlop, direkteur van die Kwantum Wetenskap Laboratorium in die Skool vir Wiskunde en Fisika by Queensland Universiteit in Australië; prof. Michael Hamblin, hoofnavorser by die Wellman Centre for Photo Medicine by die Massachusetts Algemene Hospitaal; en prof. Andrew Forbes, uitgelese professor in laser fisika aan die Universiteit van die Witwatersrand, Suid Afrika.

Deelnemers is afkomstig vanuit Algerië, Botswana, Kameroen, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Gaboen, Duitsland, Ghana, Kenia, Madagaskar, Malawie, die Nederlande, Nigerië, Suid-Afrika, Senegal, Soedan, Uganda, die Verenigde Koninkryk, Zambië en Zimbabwe.

ALC werskwinkel oor laser-verwante beeldverwerking

Spesialiste op die gebied van mikroskopie en beeldverwerking sal fokus op laser-verwante beeldverwerking gedurende hierdie werkswinkel wat van 28 tot 30 November 2016 deur die US se Departement Fisika aangebied word.

Die doel van die werkswinkel is om nagraagse studente in hierdie hoogs gespesialiseerd vakgebiede op te lei en om geleentheid te bied vir samewerking.

Die spesialiste is, onder meer, dr. Paul Donaldson (Rutherford Appleton), dr. Jorge Bernardino De La Serna (Rutherford Appleton), prof. Julian Moger  (Exeter), prof. Stan Botchway (Rutherford Appleton), prof. Tony Parker (Rutherford Appleton), en dr Alex Heidt (Bern Universiteit).

Vanaf Suid-Afrika: prof. Andrew Forbes (WITS), prof. M Mhlanga (UK), dr. Ben Loos (SU), prof. Karl Mueller-Nedebock (SU) en dr. Dirk Spangenberg (SU).

Deelnemers is afkomstig vanuit Algerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Duitsland, Ghana, Indië, Kenia, Madagaskar, Malawie, die Nederlande, Nigerië, Suid-Afrika, Soedan, Uganda, die Verenigde State en Zimbabwe.

Vir meer inligting, kontak prof. Erich Rohwer by egr@sun.ac.za