Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gaby Rautenbach
Ontmoet Gaby Rautenbach: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 07/11/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Gaby Rautenbach.

Gaby Rautenbach se droomwerk is om onderwyseres en kunstenaar te wees wat kunsinstallasies skep. Maar vir eers is sy ’n eerstejaar B Arbeidsterapie (AT)-student by die Universiteit Stellenbosch.

“Ek dink ’n AT-graad sal my toerus om ander te kan help en diensbaar te wees, selfs al eindig ek nie in ’n AT-praktyk op nie,” sê sy.

Oor tien jaar sal sy graag wil besig wees om sendingwerk in Afrika te doen as ’n onderwyseres vir grondslagfase kinders, of as AT-praktisyn. 

Sy sien uit daarna om te leer hoe om haar emosies te beheer sodat sy beter na ander se probleme kan luister.

Rautenbach, wat oorspronklik van Durban af kom, sê dit was vanjaar nie altyd so maklik om gewoond te raak aan kampuslewe nie. “Dit was nogal stresvol omdat ek geforseer was om te leer hoe om my tyd effektief te bestuur. Die gebrek aan struktuur het my ook geleer om meer onafhanklik te wees. Die beste deel is beslis al die nuwe vriende wat ek gemaak het.”

Die belangrikste les was sy al in haar lewe geleer het, is dat niks ooit verniet is nie. “Alles is altyd ’n geleentheid om iets te leer, maak nie saak hoe groot jou fout was nie. Hou net aan om vorentoe te beweeg.”

In ’n neutedop:
  • Gunsteling kos? “Tuisgemaakte pizza.”
  • Lewensleuse? “Wees mooi in jou hart, want dis die aantreklikste tipe skoonheid.”
  • Beste tydsbestuurwenk? “Beplan jou werk, en werk met ’n plan.”
  • Beste gewoonte? “Ek glimlag altyd vir almal as ek hulle sien of groet.”
  • En slegste? “Ek oordink en oordryf dinge.”