Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PRONTAK (vir nuutaangestelde akademici)
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 04/11/2016

Tydens hierdie program sal deelnemers, saam met nuutaangestelde dosente uit verskeie vakrigtings, die geleentheid gebied word om hul denke, kennis en aannames oor leer, onderrig en assessering op te weeg teen heersende denkrigtings in universiteitsonderwys. Praktiese en innoverende benaderings tot onderrig en assessering sal aan die orde van die dag wees. Deelnemers sal ook kennis maak met die nasionale en institusionele raamwerke waarbinne Hoër Onderwys in Suid-Afrika en aan die Universiteit Stellenbosch (US) bedryf word.

Deelnemers sal deurentyd uitgedaag word om te oordeel hoe kennis en beleid sinvol in hul eie vakrigtings toegepas kan word. Hulle sal uiteindelik wegstap met 'n konseptuele raamwerk waarbinne hulle oor leer, onderrig en assessering kan nadink om hul eie onderrigpraktyke te beplan en uit te bou.

Die program bied ook aan deelnemers 'n unieke geleentheid om in 'n kollegiale atmosfeer bande met kollegas van hul eie fakulteit asook van ander departemente en fakulteite te smee. Deelnemers word terselfdertyd bekend gestel aan die institusionele kultuur van die US, wat hulle hopelik sal help om vinniger tuis te voel. 

Kontak:  kontak asseblief vir Claudia Swart vir inligting rakende hierdie jaar se program:  claudias2@sun.ac.za

Webwerf:  http://www.sun.ac.za/afrikaans/learning-teaching/ctl/professional-learning-opportunities-for-t-l/predac