Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gratis hoër onderwys kan uitnemendheid by universiteite skaad
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 01/11/2016

Suid-Afrikaanse universiteite se bydrae tot globale kennisproduksie kan afneem indien daar nou toegegee word aan die oproep tot gratis hoër onderwys vir almal.

Só het gesê dr Phil Mjwara, Direkteur-generaal van die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT), op Maandag (31 Oktober 2016) by die Universiteit Stellenbosch (US) gesê. Hy was die gasspreker op eerste dag van ʼn Internasionale navorsingskonferensie oor Wetenskapmetriek, Wetenskap,- Tegnologie- en Innovasiebeleid en Wetenskapskommunikasie wat vanaf 31 Okt-3 Nov by die US plaasvind.  Mjwara se praatjie was gebaseer op die voltooide toespraak van die oorspronklik gasspreker, Minister Naledi Pandor, wat weens ander verpligtinge nie Maandag se geleentheid kon bywoon nie. 

Die konferensie word gesamentlik aangebied deur die DWT en die Nasionale Navorsingstigting se Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskapmetriek en Wetenskap-, Tegnologie-, en Innovasiebeleid (oftewel SciSTIP), en die Leerstoel in Wetenskapskommunikasie (oftewel SciCom) wat deel vorm van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI). Die US se Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie is gasheer vir beide SciSTIP en SciCom

Mjwara het met verwysing na die uitsette van navorsingsleerstoele en sentrums van uitnemendheid gesê sommige van ons universiteite word as baie effektiewe navorsingsuniversiteite beskou. Hy het gewys op ses universiteite wat onder die top 500 in die wêreld tel.

"Ons glo ons het relatief goeie instellings. Suid-Afrikaanse universiteite se bydrae tot kennisproduksie in sleutelareas soos gesondheidswetenskappe word wêreldwyd erken."

Mjwara het egter gemaan dat die goeie werk van navorsingsleerstoele en sentrums van uitnemendheid by universiteite ongedaan gemaak kan word as daar nou aan die oproep tot gratis hoër onderwys vir almal toegegee word.

"Dié oproep ondermyn die grondslag van ons model vir die befondsing van hoër onderwys wat berus op ʼn kostedeling tussen die regering en studente. As ons wegdoen met hierdie beginsel, sal die volhoubaarheid van ʼn gehalte universiteitsisteem, veral sy kapasiteit vir vakgeleerdheid en navorsing, bedreig word."

"Ons beleid (soos weerspieël in die 3de Witskrif vir Onderwys) het nog altyd beklemtoon dat 'direkte koste aan studente proprosioneel moet wees tot hul vermoë om te kan betaal' en dat ʼn 'realistiese fooistruktuur dus hand aan hand moet gaan met 'n volhoubare program vir finansiële hulp aan studente'".

Internasionale delegasie-56.jpg

Mjwara  het gesê befondsing vir wetenskap is aansienlik verhoog en belegging in die toekoms van kennisproduksie is uitgebrei deur meer navorsingsbeurse aan meesters-, doktorale- en nadoktorale studente te skenk, en ook navorsingsleerstoele en sentrums van uitnemendheid te stig.

Mjwara het bygevoeg dat navorsingsleerstoele en sentrums van uitnemendheid help om Suid-Afrikaanse wetenskaplikes in die land te hou, navorsers uit ander wêrelddele te lok, en om ons wetenskapsisteme te versterk.

Met verwysing na SciSTIP, het hy gesê "dié sentrum van uitnemendheid bou voort op ons bestaande vaardighede in wetenskapmetriek en innovasiebeleid en gee ons bykomende kapasiteit, en neem ons vermoë om ons innovasiebeleid en omgewing te verstaan en te verfyn na ʼn nuwe vlak."

Mjwara het ter afsluiting navorsers uitgedaag om gevallestudies oor die belangrike rol van wetenskap, tegnologie en innovasie in die ekonomie aan politici voor te lê.

Prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, het die gaste verwelkom en gesê dit is 'n voorreg vir die universiteit om die konferensie aan te bied.

"Die kwessies wat by hierdie internasionale konferensie bespreek word sal ons in staat stel om wetenskap, tegnologie en innovasie te meet en te ontleed want dit is waar ons ons data vandaan kry en ons benodig data om te weet waarheen ons oppad is."

De Villiers het gesê die wetenskap-, tegnologie- en innovasiebeleid bied die grondslag vir die bou van die toekoms wat ons in hoër onderwys wil hê.

"Ons benodig navorsingsuitnemendheid om antwoorde te verskaf vir die uitdagings wat hoër onderwys in die gesig staar," het hy bygevoeg.

  • Foto 1: Dr Phil Mjwara lewer die gaslesing.
  • Foto 2: Prof Wim de Villiers verwelkom die gaste.
  • Fotograaf: Anton Jordaan