Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Direkteur van Toekomsnavorsing spreek VN-afgevaardigdes toe
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 24/10/2016

"Die Verenigde Nasies (VN) staar geweldige uitdagings in die gesig met globale konflik wat verskerp, maar die bereidwilligheid van leiers om op kreatiewe en innoverende wyse oor die toekoms te praat en te dink bied ʼn positiewe vooruitsig vir geleenthede."

Só het dr Morne Mostert, Direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) verlede Dinsdag (18 Oktober 2016) gesê. Dr Mostert het senior VN-afgevaardigdes oor die belangrikheid van toekomsgerigte denke toegespreek.

Die geleentheid wat in Kaapstad plaasgevind het, het deel gevorm van ʼn VN-program vir besoekende wereldleiers en is vir die derde keer in Afrika gehou. Vanjaar se tema was Resilience and Transformation.

Ander sprekers het ingesluit prof Crain Soudien, Hoof-uitvoerende beampte van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, prof Michael Penn, Hoof van Sielkunde by Franklin Marshall Kollege in Pennsylvania in die VSA, en mnr Lionel Davis, ʼn voormalige politieke gevangene op Robbeneiland.

Dr Mostert het in sy toespraak die kritiese rol wat aanpasbare VN-leiers kan speel om ʼn alternatiewe toekoms vir die wêreld te skep beklemtoon.

"Dit is teen die agtergrond van die VN se eie transformasie met die onlangse verkiesing van António Guterres wat op 1 Januarie 2017 as die negende VN sekretaris-generaal by Ban Ki-Moon sal oorneem," het dr Mostert gesê.

Hy het daarop gewys dat mnr Guterres ná sy verkiesing gesê het hy sal "in gelyke mate tot (hulle) almal se diens wees en met geen ander agenda as dié in die VN se handves nie" en "diplomasie vir vrede" as ʼn sentrale deel van sy voorneme sal posisioneer.

Mostert het gesê "met die US se fokus op toekomsgerigtheid en innovasie is die bereidwilligheid van leiers om nuut oor die wêreld se toekoms te dink besonders relevant veral omdat die VN ʼn belangrike bydrae hiertoe sal lewer."

  • Foto: Dr Morne Mostert spreek die afgevaardigdes toe.