Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer kinders oorleef kanker
Outeur: FHMS Marketing and Communications
Gepubliseer: 20/10/2016

Agt uit tien kinders met voldoende toegang tot gesondheidsorg het ʼn kans om kinderkanker te oorleef danksy vooruitgang op die gebied van medisyne en behandeling van dié siekte. Maar in Afrika lyk dié prentjie heelwat anders.

"Kinders in ontwikkelende lande – veral in Afrika – deel nog nie in die suksesse wat die oorlewingsyfer van 0% in 1950 laat styg het tot omtrent 80% vandag nie," sê prof Mariana Kruger, 'n kinderonkoloog en Hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Dit is omdat toegang tot die behandeling nie altyd in ontwikkelende lande beskikbaar is nie. "Ongeveer 80% persent van kinders in hierdie lande het nie voldoende toegang tot die nodige terapie en kundigheid nie. Die gevolg is dat kinders dikwels laat gediagnoseer word en behandeling dan veel moeiliker is," sê Kruger

Suid-Afrika is in terme van die beskikbaarheid van geneesmiddels, kundigheid en ander hulpbronne beter daaraan toe is as die meeste ander Afrikalande. "En tog diagnoseer ons steeds net die helfte van die verwagte aantal gevalle van kinderkanker. Dit is daarom noodsaaklik dat navorsers en klinici bydraes lewer wat primêre en sekondêre gesondheidsdienste kan verbeter sodat kinders met kanker vroegtydig gediagnoseer word."

Kruger skryf laat of gebrekkige diagnose toe aan gesondheidsorgpraktisyns wat nie genoegsaam gesensitiseer is om te let op die vroeë tekens van kanker onder kinders nie.

Die behandeling van kinderkanker word verder bemoeilik deur armoede. Ouers kan dikwels nie bekostig om hulle kinders vir behandeling te neem na kinderkankerfasiliteite in die openbare gesondheidsektor, wat in Suid-Afrika hoofsaaklik by tersiêre hospitale in die groot stede geleë is, nie. Die enigste twee eenhede vir die behandeling kinderkanker vir alle kinders in die Wes-Kaap, en dele van die Oos- en Noord-Kaap, is die Tygerberg-kinderhospitaal en die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Die Tygerberg-eenheid dien ook as die verwysingseenheid vir kinderkankerpasiënte van Namibië.

Armoede lei ook tot onder- en wanvoeding, wat komplikasies tydens die behandeling kan verhoog. "'n Mens kan nie vir kinders wat ondervoed is hoogs toksiese middels toedien nie, en daarom kyk ons byvoorbeeld na aangepaste behandelingsprotokolle. Ons probeer ook om die intensiteit van die chemoterapie in ooreenstemming te bring met die ondersteunende sorg wat deur bestaande personeel van kankersorgfasiliteite in die res van Afrika voorsien kan word," sê Kruger.

Kruger en die span kinderonkoloë by die FGGW spits hulle toe op die bekostigbare middels en behandeling wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Hulle neem saam met die res van die land se kinderonkoloë aktief deel aan die ontwikkeling van nasionale behandelingsprotokolle, wat op uitkomsbewese en uiters doeltreffende terapie gebaseer is.

Die eenheid onderneem ook uitreikingsprogramme na Baptiste Sendinghospitale in Kameroen, waar plaaslike gesondheidswerkers bygestaan en opgelei word om bekostigbare, aangepaste behandeling vir die plaaslike bevolking te bied.

Tipiese simptome van kinderkanker sluit die volgende in:

  • 'n Koors wat aanhou, maar waarvan die oorsprong onduidelik is.
  • Skielike gewigsverlies.
  • Volgehoue pyn in die bene, gewrigte, rug of ledemate.
  • ʼn Knop soos 'n klier in die armholte, lies of nek, of 'n groter massa in die buik wat nie verdwyn nie.
  • ʼn Wit kol agter die pupil.
  • Oormatige voorkoms van kneusplekke, abnormale bloeding soos tandvleis- of erge neusbloedings, of ʼn fyn rooi spikkeluitslag onder die vel (bloedstippels).
  • Hoofpyne wat soggens met naarheid en braking gepaard gaan.
  • Bleekheid en moegheid.
  • Verandering in gedrag, postuur en manier van loop.

Photo: www.pixabay.com

Medianavrae
Oona Rademeyer
+27 (0)21 938 9202
oona@sun.ac.za
Afdeling Bemarking en Kommunikasie
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch  

Webwerf:       www.sun.ac.za/health
Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter:           @SUhealthsci