Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TygerMaties is blink sterre
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 18/10/2016

Tygerberg-studente het erkenning ontvang as uitblinkers op ʼn verskeidenheid gebiede tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se Jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie wat op Donderdag, 13 Oktober gehou is.

Hierdie spoggeleentheid word jaarliks aangebied deur prof Wim de Villiers, die Rektor en Visekanselier van die US, in samewerking met die Studenteraad (SR), om erkenning te gee aan studente wat uitnemend presteer het op die gebied van akademie, sport, kultuur, gemeenskapsinteraksie en dienslewering.

Die volgende finalejaarstudente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het elk ʼn Rektorstoekenning vir uitnemende akademiese prestasie ontvang: Suzanne Pretorius (MB,ChB VI), Mené van der Westhuyzen (MB,ChB VI), Lara Puchert (B in Arbeidsterapie), Jolane van Niekerk (B in Spraak-Taal- en Gehoorterapie), Karli Frenz (BSc in Fisioterapie) en Dominique Breakey (BSc in Dieetkunde).

Die US-medalje vir die Top Magisterstudent in Gesondheidswetenskappe is aan Hilmar Luckhoff toegeken.

Michael Wood, ʼn vierdejaar- MB,ChB student was die enigste ontvanger van die Rektorstoekenning in die kategorie vir uitnemende prestasie in kultuur. Hierdie talentvolle jong man het Tygerberg in ʼn verskeidenheid aktiwiteite op kulturele gebied verteenwoordig en is tans die persoon met die langste betrokkenheid in beide Kleinsêr en Molassasêr op die Tygerberg-kampus. Hy is ʼn lid van die US se Mediese Orkes, ʼn gereelde deelnemer aan die FGGW se jaarlikse Gala-konsert en hy was ʼn lid van die Tygerberg-studenteraad (TSR) waar hy die portefeulje vir kultuur beklee het.

Nick Wayne, ʼn vierdejaar- MB,ChB student, het twee toekennings ontvang, een vir uitnemende dienslewering en een vir uitnemende leierskap. Sy betrokkenheid as leier en aktiewe deelname aan studente-, universiteits- en gemeenskapsgebaseerde aksies het ʼn betekenisvolle bydrae gelewer tot die projekte en ondernemings wat hy van stapel gestuur het. Hy was ʼn TSR-lid vir twee jaar, waarvan hy een as voorsitter gedien het. Nick was ʼn stigterslid van die Tygerbergse Nagraadse Studenteraad, die Tygerberg Transformasiekomitee, die Tygerberg Oorplantingsvereniging en die Tygerberg Navorsingsvereniging. Nick is in 2015 ook tot die US-Raad verkies.

Nog ʼn alombekende TygerMatie is Dumisani Majombozi, ʼn sesdejaar- MB,ChB student, wat ʼn uitnemende leierskapstoekenning ontvang het. Hy het genoem dat hy gedurende die afgelope vyf jaar gegroei het van dienslewering op komitees en die bestuur van projekte, tot waar hy platforms geskep het vir studenteontwikkeling en die bevordering van denkleierskap binne studentekomitees. Hy is tans die projekleier vir die T25 Leierskapsinisiatief. Dumisani het as voorsitter van die TSR 2014/15 gedien.

Quintin van Staden het ʼn toekenning ontvang vir uitnemende prestasie in leierskap. Hy beklee tans die posisie van speaker en leier van die Tygerbergse Studenteparlement en was vir drie jaar lank betrokke by hierdie studenteliggaam. Hy het as onderprimarius vir die Osler Privaatstudenteorganisasie gedien en was ʼn TSR-lid. Hierdie talentvolle sportman is ʼn lid van die Westelike Provinsie se Oopwater-swemspan en die Mans A-span in Tweekamp. Benewens sy besige akademiese program as vyfdejaar- mediese student, maak Quintin ook tyd om ʼn lid van die US se Mediese Orkes en Tyberbergse Dansvereniging te wees.

Douglas Heale is ʼn sesdejaar- MB,ChB student en lid van die Golden Key-vereniging sedert sy eerste jaar. Hy het ʼn toekenning ontvang vir uitnemende prestasie in dienslewering. Heale het gesê sy reis deur die US het hom gehelp om te besef dat hy nie net hier is om ʼn mediese dokter te word nie. "Ek is hier om ʼn beter gesentreerde persoon te word met ʼn verskeidenheid vaardighede en kennis wat my sal help om ander te ontwikkel." Hy was aktief betrokke by verskeie inisiatiewe van die Frederik Van Zyl Slabbert Leierskapsinstituut. Heale het ook verskeie leierskapsposisies beklee in die Meerhoff-koshuis en was ʼn lid van die Medies-krieket se eerstespan van 2011 tot 2015.

Foto: Jolane van Niekerk, Hilmar Luckhoff en Lara Puchert tydens die Jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie.

Fotograaf: Anton Jordaan