Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapstadse Konsulêre Korps besoek US
Outeur: Amanda Tongha
Gepubliseer: 17/10/2016

''n Wêreldklas universiteit, geanker in Afrika en globaal in omvang.' Dit is hoe die Universiteit Stellenbosch (US) aan lede van die Kaapstadse Konsulêre Korps beskryf is toe hulle die universiteit op Vrydag 14 Oktober 2016 besoek het. Verteenwoordigers van 17 lande, waaronder Angola, Mauritius, Brasilië, Frankryk, Italië, Japan en die Verenigde Koninkryk, het  met lede van die US senior leierskap , Universiteit Stellenbosch Internasionaal (voorheen bekend as die Nagraadse en Internasionale Kantoor) en Studentesake ontmoet. Hulle is ingelig oor die universiteit en wat internasionaal gedoen word.  

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het die besoekers verwelkom en hulle meegedeel dat daar 'n toenemende klem op internasionalisering is, wat weerspieël word in die groot aantal internasionale studente by  die US. "Dis noodsaaklik dat ons 'n internasionale uitkyk het om plaaslik relevant, streeksgewys doeltreffend en globaal mededingend te wees. Ons streef nie daarna om die Oxford of Harvard van die Suide te wees nie, eerder 'n internasionaal erkende universiteit met sterk Afrika wortels. "

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering, het 'n soortgelyke boodskap gehad en klem gelê op US vennootskappe en samewerkingsooreenkomste op die vasteland en in die res van die wêreld. "Ons waardeer elke netwerk en samewerkingsgeleentheid en kyk hoe ons dit kan verbeter en nuwe netwerke vestig wat globale reik verder uitbrei." Sy het ook 'n aankondiging gemaak oor die nuutgestigde Universiteit Stellenbosch Internasionaal wat op 7 November amptelik bekend gestel word. "Ons het herbesin oor die werk wat ons op internasionale vlak doen, dit in 'n formaat wat sin maak saamgevat om inisiatiewe vorentoe te dryf."

Mnr Robert Kotzé, Senior Direkteur van Universiteit Stellenbosch Internasionaal, het 'n toespraak oor oor die Universiteit se globale betrokkenheid en ondersteuningsdienste aan internasionale studente gelewer. Dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake, het inligting oor studentegemeenskappe en strukture gegee en me Corina du Toit, programbestuurder van die Afrika Doktorale Akademie, het gepraat oor die leierskaprol wat die US neem in doktorale opleiding op die kontinent.

By die gesprek oor internasionalisering, van links:  prof Wim de Villiers, prof Hester Klopper, mev Bernadette Hunkeler Brown, dekaan: Konsulêre Korps Kaapstad en konsul-generaal van Switserland en dr Prieur du Plessis, visedekaan van die Konsulêre Korps en ere-konsul-generaal van Slowenië.

Foto: Anton Jordaan