Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Google SA se McKend inspireer studente by eerste Loopbaankafee
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 14/10/2016

Luke McKend, 'n BA alumnus en nasionale direkteur van Google SA, was Woensdag die eerste genooide spreker by die Loopbaankafee (Careers Café) van die Universiteit Stellenbosch (US) wat onlangs geloods is. Die Loopbaankafee is gevestig deur die Alumni-betrekkinge kantoor om huidige studente te help om voor te berei vir die beroepe wat hulle beoog, met die hulp van alumni wat die geleentheid wil gebruik om met hul alma mater te skakel op 'n besondere wyse deur hul tyd en vaardighede te bied om student werkgereed te maak.

Die eerste in 'n reeks "kafees" wat gehou sal word in fakulteite regoor die universiteit – die loods-kafee staan bekend as die Lettere Loopbaankafee – het Alumni-betrekkinge en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe saamgevoeg vir 'n TedTalk-tipe praatjie wat  deur byna 200 studente bygewoon is tydens 'n etensuur.

McKend het ʼn BA-graad met Engels en Filosofie aan die US behaal in die 1990's en nadat hy vir ʼn aantal aanlyn-ondernemings oorsee gewerk het, het hy in 2007 by Google VK aangesluit. Deur die jare het hy met sommige van Google se grootste kliënte gewerk in die ontwikkeling van hul digitale bemarkingstrategieë in verskeie bedrywe in die VK en is nou verantwoordelik daarvoor om Google as onderneming in Suid-Afrika uit te bou.

Tydens die praatjie het McKend verskeie staaltjies uit sy studentejare gedeel: van die gebruik van die internet vir die eerste keer in 1994 tot die insluip by die US se Ingenieurswese-gebou om 03:00 in die oggend om die internet te gebruik, wat gestaak het as meer as vier studente aanlyn was en net inligting bevat het oor die weersomstandighede van die tyd.

"Toe ek weg is by Stellenbosch het ek, soos almal, aspirasies gehad dat ek ʼn loopbaan sou hê, dat ek die leer sou klim. Ek sou van die een trappie na die volgende geklim het. Ek sou progressief meer suksesvol word, meer geld verdien en uiteindelik in die voorstede bly in ʼn groot huis waar ek elke Sondag sou braai. Dit was die droom," sê McKend, en voeg by dat dit nie gebeur het nie.

"Enigeen wat dink ʼn loopbaan is ʼn lineêre progressie van werk A tot B tot C tot Z in hierdie tye, maak ʼn groot fout."

Hy het aan studente duidelik gemaak dat hy ʼn ander roete geneem het in die bou van sy eie loopbaan, deur verskillende poste – ʼn totaal van 22 oor die jare – te vul wat gewissel het van sekuriteitswag, marknavorsing doen van deur tot deur en skuldinvordering, tot bedryfsbestuurder van ʼn aanlyn-casino.

McKend het studente aangemoedig om weg te beweeg van ʼn lineêre loopbaanpad en eerder hul loopbaan te sien as "ʼn versameling ondervindings waaruit jy altyd iets nuuts en anders kan leer, wat jy dan saamvoeg en in iets nuuts omskep in die volgende pos wat jy beklee".

Hy het studente aangemoedig om aan die voorpunt te bly, en verwys na leidende entrepreneurs en ondernemings soos Elon Musk, Uber en Airbnb, en hoe hulle die konvensionele wyse van besigheid doen ontwrig het deur hul innoverende dienste of produkte.

"Elk van hierdie ondernemings verander en ontwrig dinge so vinnig, dat hulle dit doen voordat regulasies en wette aangepas kan word. Wat ek daaruit geleer het is dat, as jy innoverend is, maar jy nie wetgewing, regulasies en reëls verbysteek nie, as mense nie die reëls moet aanpas nadat jy gedoen het wat jy gedoen het nie, beweeg jy waarskynlik te stadig in die hedendaagse wêreld."

McKend het studente ook aangeraai om uit te reik en geleenthede wat op hul pad kom aan te gryp, maar dit op die regte tyd te doen en wanneer dit hulle sal baat in die strewe na die doelwit wat hulle vir hulself gestel het.

Die belangrikste, meen hy, is om ʼn werk te vind wat jou ook ʼn doel gee. Hy het vertel hoe hy ʼn werk met ʼn doel by Google gekry het en verwys na ʼn geleentheid in 2011 toe Google die Dalai Lama en Aartsbiskop Desmond Tutu bygestaan het met die viering van Tutu se verjaarsdag, wat bedreig was deur die Suid-Afrikaanse regering se weiering om die Dalai Lama ʼn visum te gee om na Suid-Afrika te kom. Op die laaste oomblik het Google ingetree en ʼn videokonferensieplatform geskep waar die Dalai Lama en Tutu nie net met mekaar kon praat vanuit hul verskillende liggings nie, maar die gesprek ook intyds op YouTube gestroom is dwarsoor die wêreld.

"Vind iets wat jou werk omskep in iets meer as net ʼn betaler van jou huur. As jy ʼn plek kan vind waar jy kan werk wat nie net die huur betaal nie, maar jou toelaat om dinge doelgerig en met passie te doen, dan het jy regtig iets gevind wat die moeite werd is om aan vas te klou. Ten spyte van die feit dat ek voorheen al 21 poste gehad het, ten spyte van die feit dat ek baie verskillende dinge gedoen het, is dit hierdie kombinasie wat dit vir my moontlik gemaak het om by my maatskappy te bly vir die laaste 10 jaar."

As jy McKend se Top Vyf Wenke misgeloop het oor hoe om voor te berei vir die loopbaan wat jy wil hê, is hulle hieronder gelys vir jou toekomstige gebruik.

WENK 1

Jou reputasie is jou belangrikste bate

Tree altyd op met integriteit en onthou jou optrede is 'n weerspieëlling van wie jy is en nie wat jy sê jy sal doen nie.

WENK 2

Moenie die horlosie dophou nie

Moet nie die horlosie dophou by die werk nie. Dit is nooit 'n goeie strategie vir voortuitgang nie. Indien jy nie effense stres voel nie, is dit wat jy doen dalk te maklik vir jou.

 WENK 3

Geniet jou ervaringe 

Sien jou loopbaan as 'n versameling van wonderlike ervaringe eerder as 'n reeks werksgeleenthede.

WENK 4

Wees deel van die span

So briljant soos jy is, sal amper al jou werk binne spanverband gebeur. Leer om saam met mense te werk en om waardering vir diversiteit binne 'n span te hê.
 

WENK 5

Moet nie bang wees om jou drome na te streef nie

As jy 'n entrepreneur wil wees, onthou dat alle groot maatskappye ook eers klein begin het – die mees belangrikste is dat jy wel begin.

Hooffoto: Luke McKend, Nasionale Direkteur van Google SA, gesels met studente en deel loopbaanraad met hulle tydens die eerste Loopbaankafee, die Lettere Loopbaankafee, wat onlangs aangebied is by die Universiteit Stellenbosch.  (Anton Jordaan, SSFD)