Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bewaar ons fynbos oor die volgende 100 jaar
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 12/10/2016

Sewentig jaar na die verskyning van die Wicht-kommissie se verslag in 1945 oor die bewaring van die plantegroei van die Suidwes-Kaap, is 'n 95-bladsy lange verslag oor dieselfde onderwerp vandeesweek gepubliseer in die Transactions of the Royal Society of South Africa.

Hierdie verslag, wat saamgestel is deur 'n groep bewaringskundiges verbonde aan Suid-Afrikaanse universiteite en bewaringsorganisasies, beklemtoon die uitdagings wat die Kaapse Blommestreek oor die volgende honderd jaar in die gesig sal staar.

Prof. Brian van Wilgen, 'n internasionaal erkende spesialis op die gebied van bewaringsekologie by die DWT/NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie (S·I·B) aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die hoofouteur, sê die navorsingprogram vergestalt "die langste geskiedenisdekking ter wêreld van gesamentlike wetenskaplike pogings  gemik op die bewaring van 'n hele streek en sy verteenwoordigende plantegroei en diere". 

"Wanneer jy terugkyk oor hierdie tydperk, is daar sekerlik prestasies wat werd is om gevier te word", sê hy. "Die goeie nuus van die afgelope 70 jaar is dat: ons vlak van begrip beduidend toegeneem het; ons beskermde gebiednetwerke geweldig uitgebrei het; sommige van ons gebiede Wêreld Erfenisgebied-status verkry het; bewustheid onder die publiek geskep is, en ons boonop 'n op-en-wakker bewaringsgemeenskap in stand gehou het".

Hy waarsku egter: "Maar ons sal die manier waarop ons dinge doen, wesenlik moet verander indien ons die grootskaalse verlies van unieke fynbos oor die volgende honderd jaar wil voorkom.  

Sommige van die voorstelle in die verslag sluit onder andere in die aangaan van bewaringskompromieë, of die implementering van 'n bewarings-"triage". "Ons moet skaars bronne toespits op daardie beskermde gebiede wat voorrang geniet. Indien ons suksesvol wil wees, sal ons dus sommige areas moet ignoreer ten einde ander areas te kan bewaar. Ons sal dalk ook brandbeperkings moet verslap met die oog op optimale biodiversiteitsuitkomste ten einde die groot indringerplantprobleem op te los.

Sleutelbevindings van die verslag is:

  • Brande in die Kaapse Blommestreek word tans nie goed bestuur nie. Die behoefte aan positiewe biodiversiteitsuitkomste (soos dié wat deur hoë-intensiteit brande aan die gang gesit word) word gewoonlik ter syde gestel weens kommer oor veiligheidskwessies. Laasgenoemde vrese maak dit moeilik om die nodige toestemming te verkry om voorgeskrewe, beheerde brande te stig op tye wat vir die plantegroei die beste sal wees. Die gevolg hiervan is dat geordende brandregimes deur onbeplande veldbrande oorheers word.
  • Ten opsigte van uitheemse indringerplante geld die Wicht-komitee se waarneming steeds dat skaars bronne aangewend moet word vir die beheer van geselekteerde gebiede (wat dan by implikasie beteken dat ander gebiede geïgnoreer moet word) ten spyte van die enorme som geld wat reeds oor die afgelope twee dekades oorkoepelend spandeer is.
  • Die oes van 'n reeks plantprodukte vir gebruik in die tradisionele geneeskunde het weer opgevlam en toegeneem, alhoewel dit moeilik kwantifiseerbaar is. Dit hou 'n wesenlike bedreiging vir die bewaring van hierdie plante in.
  • Alhoewel bewaringsnetwerke gegroei het, het die kapasiteit en fondse om dit te bestuur, wesenlik gekrimp.

Die verslag kom ook tot die gevolgtrekking dat dit nie haalbaar sal wees om alle klimaatgeïnduseerde uitwissings te voorkom, indien noemenswaardige aardverwarming sou plaasvind nie.

Dit beklemtoon egter dat die impak van "die eksponensiële toename van mense in stedelike gebiede in die 20ste eeu, sowel as die impak wat ontwikkeling op die Kaap se unieke biodiversiteitsbates het" 'n kritieke fokus vir die bewaringsgemeenskap behoort te wees.  

Die mede-outeurs van hierdie  merkwaardige verslag is Prof. Jane Carruthers (UNISA), Prof. Richard Cowling (NMMU), Prof. Karen Esler (US), Aurelia Forsyth (CapeNature), Dr. Mirijam Gaertner (S·I·B), Timm Hoffman (UK), Prof. Frederick Kruger (OVS), Prof. Guy Midgley (US), Guy Palmer (CapeNature), Genevieve Pence (CapeNature), Domitilla Raimondo (SANBI), Prof. David Richardson (S·I·B), Dr. Nicola van Wilgen (S·I·B en SANParks) en Prof. John Wilson (S·I·B).

Die artikel "Ecological research and conservation management in the Cape Floristic Region between 1945 and 2015: History, current understanding and future challenges" is aanlyn beskikbaar by  http://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/0035919X.2016.1225607

Kontakbesonderhede

Prof. Brian W. van Wilgen

Sentrum vir Indringerbiologie, Universiteit Stellenbosch

T: +27 (0)21 808 2835

M: +27 (0)82 454 9726

E: bvanwilgen@sun.ac.za

www.sun.ac.za/cib

 Foto: Protea neriifolia in die Kaapse Fynbos. Fotograaf: Derek Keats (https://www.flickr.com/photos/dkeats/89035784/in/photostream/