Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Topdosente het passie vir hul vakgebied
Outeur: Lana Coetzee, Die Burger
Gepubliseer: 11/10/2016

Prof Sarel Steel van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap is Vrydagaand by 'n glansryke geleentheid op Knorhoek-wynlandgoed aangewys as die wenner van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se topdosentkompetisie.

Prof Edwin Theron van die Departement Ondernemingsbestuur het vanjaar die tweede meeste stemme ontvang en Roelof Baard van die Skool vir Rekeningkunde was derde.

Dit is die sesde jaar dat dié kompetisie, wat deur Die Burger geborg word, plaasvind.

Wat vanjaar anders maak as ander jare, is die feit dat daar hierdie jaar in elke departement van die fakulteit, asook by die US Bestuurskool, 'n topdosent aangewys is. Alle voorgraadse en honneursstudente kon stem, terwyl net finalejaar- en honneursstudente in die verlede kon stem.

Hulle is: Prof Edwin Theron (Departement Ondernemingsbestuur), dr Debra Shepherd (Departement Ekonomie), prof Callie Theorn (Departement Bedryfsielkunde), prof Sarel Steel (Departement Statistiek en Aktuariële wetenskap), dr. Babette Rabie (Skool vir Publieke Leierskap), Roelof Baard (Skool vir Rekeningkunde), Heinri Freiboth (Departement Logistiek) en prof André Roux (US Bestuurskool).

Elkeen van hierdie dosente is dus 'n wenner in eie reg, maar het dan ook meegeding om die posisie as algehele topdosent.

Prof Steel, wat reeds 37 jaar lank klasgee, is 'n nederige mens wat glo jy moenie 'n klas binnegaan met die gedagte dat jy dit of dat aan die studenete wil verander nie.

“Jy moet hulle eers aanvaar en 'n vertrouensverhouding met hulle opbou,” sê hy.  “Ek dink dis belangrik vir studente om te voel hul dosente aanvaar hulle. Dit moet heel eerste kom, voordat 'n mens probeer om aan optrede en ingesteldheid te skaaf.”

Elke departementele wenner ontvang 'n bedrag van R20 000, en die topdrie ontvang onderskeidelik ook 'n ekstra bedrag van R30 000, R25 000 en R20 000. Tien studente wat aan die stemmery deelgeneem het, het elkeen R1 500 in ‘n gelukstrekking ontvang. Een van hulle, Sakheisizwe Mbangeni, het ook 'n iPad ontvang.

Prof Stan du Plessis, dekaan van die fakulteit, het gesê: "Ons is werklikwaar geseën met uitstekende studente én dosente in ons fakulteit. Met die vorm wat die kompetisie vanjaar aanneem, gee ons erkenning aan uitnemende onderrig in elke departement en skool in die fakulteit. Dit bied egter steeds aan studente die geleentheid om die beste algehele dosent aan te wys.

“Die agt finaliste is elkeen sterre in hul onderskeie dissiplines. Hulle is ongeloof knap en toegewyd, en gaan uit hul pad om 'n nuwe geslag jongmense op dieselfde pad te lei. Die onderskeie dosente bskou dit as 'n groot eer, maar is dit almal eens dat dit hulle terselfdertyd nederig laat voel. Die topdosentetoekennings is iets waarna dosente kan streef én 'n bewys dat die student se ervaring vir ons belangrik is."

Foto (v.l.n.r.): Mnr Willem Jordaan, redakteur van Die Burger (borg van die topdosentkompetisie), prof Eugene Cloete, viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies, prof Edwin Theron (algehele naaswenner), mnr Heinri Freiboth (Departement Logistiek), prof Callie Theorn (Departement Bedryfsielkunde), dr Debra Shepherd (Departement Ekonomie), mnr Roelof Baard (in die derde plek), proff Ronel du Preez, visedekaan (leer en onderrig), Stan du Plessis, dekaan, en Sarel Steel (algehele wenner) en André Roux (US Bestuurskool). Foto geneem deur Natalie Daniels.