Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe begin vir NGIK
Outeur: Stellenbosch University International
Gepubliseer: 04/10/2016

Die Nagraadse en Internasionale Kantoor (NGIK) ondergaan vanaf 1 Oktober 'n gedaanteverwisseling en word herorganiseer in twee kantore, Universiteit Stellenbosch Internasionaal (USI) en 'n Nagraadse Kantoor wat deel vorm van die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO). Die herorganisasie volg op die plasing van "Nagraadse Studies" as deel van die portefeulje van Prof Eugene Cloete, visekrektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies en die aanstelling van Prof Hester Klopper as viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering wat in Augustus haar pos opgeneem het. Dis die eerste keer dat Universiteit Stellenbosch (US) 'n viserektor het wat spesifiek getaak is met die internasionalisering van die universiteit se kernbedrywighede: navorsing, leer en onderrig en sosiale impak.

US personeel en studente kan steeds by die Wilcocks-gebou aanklop vir USI-dienste soos internasionale registrasie, oorsese mobiliteitsgeleenthede, immigrasie  en netwerk-geleenthede, asook vir dienste soos gesamentlike doktorale grade, nagraadse vaardigsheidsontwikkeling en beursgeleenthede wat deur die Nagraadse Kantoor gelewer word. Dienste wat nog tot onlangs deur die NGIK gelewer is, gaan dus onveranderd voort todat nuwe prosesse ingefaseer is. Meer besonderhede oor die werksaamhede van die twee kantore sal later gekommunikeer word. Kontakpersone bly ook tot tyd en wyl onveranderd.

Dorothy Stevens, voormalige adjunk-direkteur van NGIK, staan nou aan die hoof van die Nagraadse Kantoor en die inskakeling by ANO word tans deurgevoer.

Universiteit Stellenbosch Internasionaal, onder die leiding van Robert Kotzé, voormalige senior direkteur van die NGIK, beplan 'n amptelike bekendstelling op 7 November.  Dit val saam met Afrika Universiteite Dag-vieringe, waar die volledige nuwe USI-struktuur bekend gestel sal word.