Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit - wat veroorsaak dit en wat kan daaromtrent gedoen word?
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 29/09/2016

Oktober is ʼn bewusmakingsmaand vir Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS).

AAHS is ʼn chroniese neuro-gedragstoestand wat miljoene kinders beïnvloed en dikwels in die volwasse lewe voortduur. Omtrent alle kinders beleef tye wanneer hulle gedrag of aandagspan verander, maar by kinders met AAHS kom gedragsprobleme so dikwels voor en is dit so ernstig dat dit ʼn kind se prestasie en verhoudings kan beïnvloed.

Terwyl daar nie betroubare plaaslike voorkomsyfers vir AAHS beskikbaar is nie, is die internasionale voorkomsyfer ongeveer een tot drie uit elke 100 kinders. Navorsing het getoon dat daar geen enkele oorsaak vir AAHS is nie, maar kinders met ʼn familiegeskiedenis of genetiese predisposisie (ʼn latente vatbaarheid vir 'n siekte wat in sekere toestande geaktiveer kan word) loop ʼn groter risiko. AAHS word ook beïnvloed deur omgewings- en emosionele risikofaktore soos moeders wat rook en alkohol gebruik tydens swangerskap, en angs of geestesgesondheid tydens swangerskap.

Wanneer ʼn kind met AAHS gediagnoseer word, is ouers dikwels bekommerd oor of hulle die regte besluite neem oor die pad vorentoe. Dit is belangrik vir ouers om te onthou dat AAHS suksesvol bestuur kan word, maar dit is net so belangrik dat hulle seker maak dat die regte diagnose gemaak is.

Volgens dr Anusha Lachman, ʼn kinderpsigiater by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, moet daar ʼn omvattende ondersoek gedoen word voordat kinders met AAHS gediagnoseer kan word. "AAHS kan te maklik gediagnoseer word onder kinders wat ander simptome toon wat veroorsaak kan word deur swak voeding, ʼn ystertekort, onvoldoende slaap, blootstelling aan trauma, swak roetines of diëte wat ongebalanseerd, stimulerend en nie voedsaam is nie. Hierdie simptome kan op ander maniere aangespreek word."

"In situasies waar daar spesifieke leerprobleme of kwessies met swak dissipline is, kry 'stout' kinders medikasie wanneer die wanindruk bestaan dat hulle AAHS het," sê Lachman.

AAHS kan nie met slegs een toets gediagnoseer word nie. ʼn Diagnose word deur ʼn gesondheidspraktisyn gemaak deur ʼn kliniese evaluering met gestandaardiseerde hulpmiddels te doen. Volgens die Diagnostic and Statistical Manual (DSM-5) Manual of Mental Disorders, moet ʼn kind sekere spesifieke simptome toon voordat AAHS gediagnoseer kan word. Hierdie simptome sluit in onoplettendheid, hiperaktiwiteit of impulsiwiteit wat oor ʼn tydperk van ses maande binne verskillende omgewings voorkom, soos by die skool, tuis of op die speelgrond.

"Die diagnose kan nie gemaak word as die simptome in slegs een omgewing voorkom nie (byvoorbeeld slegs by die skool en nie by die huis nie), en dit belangrik om te onthou dat AAHS nie skielik voorkom na jare van doeltreffende funksionering nie. Daar moet ʼn geskiedenis van swak funksionering of verswakte funksionering wees as gevolg van onoplettendheid, aandagafleibaarheid of impulsiwiteit," verduidelik Lachman.

Sommige tieners met AAHS, wat nie tydens hulle kinderjare gediagnoseer is nie, mag meer begin sukkel soos wat die druk in hulle adolessensie toeneem. Lachman sê adolessente met geen vorige geskiedenis van akademiese of sosiale uitdagings nie en wat vir die eerste maal in hoërskool simptome toon, moet eers vir meer algemene probleme getoets word, soos gifstowwe in urine as gevolg van middelmisbruik, voordat daar outomaties aan ʼn diagnose van AAHS gedink word.

Daar is talle studies wat die doeltreffendheid en veiligheid van ʼn aantal verskillende behandelings ondersoek. Daar is bewyse dat slegs drie behandelingsmetodes doeltreffend is, naamlik gedragsterapie, medikasie en die kombinering van die twee.

Gedragsterapie kan kognitiewe opleiding en ʼn beter gestruktureerde roetine insluit. In ʼn onlangse oorsigtelike studie in die American Journal of Psychiatry (2013) is die nie-farmakologiese behandeling vir AAHS ondersoek en daar is bevind dat alternatiewe medikasie soos multivitamiene, vitamien-eliksers of -drankies, omega-olies en aanvullings wat vrye vetsure bevat, as aanvullende behandeling gebruik kan word eerder as dat dit gestandaardiseerde AAHS-behandeling vervang. Daar is beperkte bewyse dat diëte wat sekere kossoorte beperk of uitskakel as die hoofbehandeling vir AAHS aangewend kan word.

Lachman verduidelik dat AAHS-medikasie beide noodsaaklik en baie doeltreffend is, alhoewel dit slegs voorgeskryf moet word indien die diagnose korrek is en die simptome in meer as een omgewing voorkom. AAHS-medikasie – insluitend stimulante en nie-stimulante – is die goue standaard vir behandeling en as die diagnose korrek is, moet ʼn standaardstimulant voorgeskryf word. Sy waarsku dat alternatiewe, natuurlike produkte met groot omsigtigheid en onder toesig van ʼn mediese gesondheidspraktisyn, soos ʼn sielkundige, psigiater of pediater, getoets moet word.

Die dosis vir stimulantbehandeling hang af van die pasiënt se reaksie of respons, wat beteken ʼn kleiner kind mag of meer of minder medikasie benodig as ʼn ouer kind. "Dit hang af hoe die kind reageer, en of hy of sy die newe-effekte kan hanteer. Ouers moet onthou dat meer nie altyd beter is wat AAHS-medikasie betref nie," sê Lachman.

Sy waarsku ook teen die gebruik van stimulantmedikasie gedurende eksamentye om konsentrasie te verbeter. "Wanneer AAHS nie gediagnoseer is nie, word die gebruik van stimulantmedikasie om te help met beter eksamenuitslae beskou as neuro-versterking, soortgelyk daaraan om verbode middels te gebruik om sportprestasie te verbeter. Dit is beide onwettig en oneties," sê sy.

AAHS is ʼn werklike en inperkende steuring en nie net ʼn geval van ʼn kind wat nie hard genoeg probeer om te fokus en te konsentreer nie. ʼn Deeglike assessering deur ʼn mediese gesondheidspraktisyn is ʼn vereiste voordat behandeling kan begin, en ouers moet ingelig wees oor die bewyse van die doeltreffendheid van alternatiewe behandeling voordat hulle besluit om nie gestandaardiseerde behandeling wat deur hulle dokters aanbeveel word te gebruik nie.

Einde

 

Medianavrae

Bemarkingskoördineerder

Mandi Barnard

+27 (0)21 938 9505

mandi@sun.ac.za

Afdeling Bemarking en Kommunikasie

Fakulteit Geneeskunde en      Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch        

 

Webwerf:         www.sun.ac.za/health

Facebook:       www.facebook.com/SUhealthsci

Twitter:            @SUhealthsci