Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Carolina Nicolaou
Ontmoet Carolina Nicolaou: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 26/09/2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Carolina Nicolaou.

Carolina Nicolaou staan nie terug vir ’n uitdaging nie. “Die lewe gaan nie daaroor om te wag tot die storm verby is nie, maar eerder oor om te leer hoe om in die reën te dans,” verduidelik sy haar lewensleuse.

Nicolaou, ’n Johannesburger, is ’n eerstejaar MB,ChB-student aan die Universiteit Stellenbosch. Die huiskomitee van Meerhoff beskryf haar as iemand met “uitsonderlike leierskapspotensiaal” en iemand op wie ’n mens altyd kan staatmaak om haar beste te lewer in enige situasie. “Ek hou van hoe ek voel as ek weet ek het iets goed gedoen,” sê sy.

Nicolaou wou graag medies studeer omdat sy daarvan hou om met mense te werk en die gesondheiswetenskappe haar fassineer. Sy het nog nie ’n duidelik idee van wat haar ‘droomwerk’ eendag sal wees nie, maar, sê sy, “solank ek ’n dokter kan wees en soveel moontlik mense kan help”.

Aan haar 40-jarige self sou sy ’n eenvoudig boodskap wou gee: “Moenie vergeet dat die lewe ’n wonderlike geskenk is nie, maak nie saak hoé groot jou uitdagings voel nie.”

Vinnige vrae:

  • Is sosiale media ’n goeie uitvindsel of ’n slegte een? “Beide. Dit hou ons op hoogte van ander mense se lewens en wat in die wêreld gebeur, maar dit maak mense ook meer selfbehep.”
  • Beste gewoonte? “Ek hou daarvan om netjies en georganiseerd te wees.”
  • Slegste gewoonte? “Ek is geneig om dinge uit te stel.”
  • Wat irriteer jou? “Mense wat nie doen wat hulle sê hulle sal nie.”
  • Wat sou jy op ’n advertensiebord skryf? “Glimlag. Dis ’n pragtige dag.”