Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boodskap van die Dekaan se Bestuurspan, FGGW - 22 September 2016
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 22/09/2016

Boodskap van die Dekaan se Bestuurspan, Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch
Donderdag 22 September 2016


Beste Kollegas en Studente

 


Die Dekaan se Bestuurspan (DBS) wil graag ons opregte dank uitspreek aan die lede van die Tygerberg-gemeenskap vir die manier waarop u die afgelope paar dae se spesifieke uitdagings hanteer het.

 

Baie dankie aan elke student en personeellid wat ons vergadering vanoggend bygewoon het. Die openlike en reguit gesprekke het ons as ʼn gemeenskap gehelp om ʼn beter begrip te kry van sommige van die kwessies wat ons studente op ʼn daaglikse basis moet hanteer. Studente het hulle verskille gedeel en ʼn pleidooi gelewer vir ons om saam vorentoe te beweeg.

 

Dit is noodsaaklik dat ons aanhou om die behoefte aan gelyke toegang tot hoëronderwys, sowel as ander uitdagings in ons land en op ons kampus, verder te bespreek. Ons sal beter antwoorde, meer haalbare oplossings en meer doeltreffende strategieë om verandering teweeg te bring kry as ons aanhou om saam gesprekke te voer en te werk.

 

Ons weet dat die gebeure sedert Maandag spanning vir ons personeel en studente veroorsaak het, en dat dit ʼn negatiewe invloed kan hê op studente se vermoë om akademies te presteer, veral wanneer dit kom by assessering. Alle voorgraadse akademiese aktiwiteite vir Vrydag 23 September 2016 is uitgestel sodat studente en personeel die tyd kan gebruik om vir volgende week se akademiese verpligtinge voor te berei.

 

Ek wil graag ons kollegas bedank wat onvermoeid gewerk het om te sorg dat hierdie stappe gedoen kan word om te verseker dat elke student by ons fakulteit bygestaan word om hulle akademiese jaar suksesvol te voltooi. Alle ander aktiwiteite op die Tygerbergkampus gaan voort en die kampus sal oop wees.

 

As bestuurspan verbind ons onsself daartoe om te help om eerlike gesprekke te lei oor hoe ons saam kan werk om 'n verwelkomende en mensgerigte institusionele kultuur te skep wat inklusiwiteit, gelykheid en ander menseregte bevorder en waarna ons almal streef.

 

Vriendelike groete

 

Prof Julia Blitz
Waarnemende Dekaan