Vrydagaand beloof koshuisrugby uit die boonste rakke op te lewer wanneer die Danie Craven-stadion gasheer speel vir nie minder nie as vier finale.
Die Steinhoff vierde-, derde- en tweedeligafinaal sal tussen 17:00 en 20:00 plaasvind met die Steinhoff Sauerbeker-finaal wat vir 20:15 geskeduleer is.
Steinhoff Huis Marais, wat die seisoen as voorloper afgesluit het, sal te staan kom teen die witwarm Steinhoff Helderberg-span in wat beloof 'n epiese stryd te wees.
Huis Marais, wat sy eerste titel in 1950 gewen het, het sedertdien reeds 11 keer met die louere weggestap. Sy mees onlangse oorwinnings was in 2002, 2003 en 2006 en dié koshuis het ook verlede jaar in die finaal teen Steinhoff Dagbreek gespeel.
Helderberg het laas in 2011 in die finaal uitgedraf. Toekomstige Varsity Beker-vleuel, Mike Muller, het 'n troosdrie in sy span se nederlaag van 20-8 aangeteken. Helderberg se laaste oorwinning was in 2000 en voor dit het hy die trofee in 1960 en 1973 gelig.
Huis Marais en Helderberg het Maandag 18 Julie teen mekaar te staan gekom in hul gewone kragmeting van die seisoen, en dit was Helderberg wat met 10-0 geseëvier het. Die manne van die Republiek sou bitter graag hierdie sege-telling wil herhaal terwyl Huis Marais vir seker 'n les of twee uit verlede jaar se finaal geleer het.
Steinhoff Huis Marais het drie Springbok-kapteins opgelewer in Avril Malan, Abé Malan en Hannes Marais. Eneill Buitendag, 'n voormalige Huis Marais-inwoner, is tans lid van die Namibiese nasionale span en het in die 2015 RWB gespeel.
Maties se huidige junior afrigter, Christoff Lötter, is 'n oud-Helderberger en so ook die voormalige Stormers- en WP-kaptein, Deon Fourie.