Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oes meer reënwater vir huishoudelike gebruik
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 13/09/2016

'n Mikrobioloog van die Universiteit Stellenbosch (US), dr. Wesaal Khan, is deel van 'n internasionale konsortium van spesialiste wat getaak is om volhoubare tegnologieë te ontwikkel wat sonkrag gebruik om reënwater te suiwer ten einde veilige drinkwater aan verafgeleë gemeenskappe te kan verskaf. Hierdie watersuiweringstegnologie staan ook as SODIS-tegnologie (Solar Disinfection) bekend.

Dr. Khan, hoof van die laboratorium gemoeid met waterbronne in die Departement Mikrobiologie aan die US, se navorsing sal fokus op die gebruik van SODIS-sisteme op gemeenskapsvlak: om die reënwater te suiwer wat geoes word van huise en ander geboue se dakke af. Tot dusver is hierdie tegnologie nog net op tweeliterbottels toegepas.

"Suid-Afrikaners wat in landelike gebiede woon, is gewoond daaraan om reënwater te oes. Maar terwyl gemeenskappe in die Oos-Kaap die reënwater ook as drinkwater kan gebruik, het ons navorsing getoon dat dit veral in stedelike gebiede nie die geval is nie," verduidelik sy.

Reënwater in hierdie gebiede word gekontamineer met swaar metale weens lugbesoedeling. Daarbenewens versamel daar ook plantreste, voëlmis en die mis van klein diertjies op dakke wat veroorsaak dat die reënwater wat van die dakke af geoes word, besmet is met skadelike mikroörganismes.

Dr. Khan waarsku dat hierdie siekteveroorsakende mikroörganismes wat gedurende hulle studies in reënwatertenks geïsoleer is, onder meer met siektes soos diarree, longontsteking en wurminfestasies geassosieer word.

Sy sê die doel van die projek, getiteld WATERSPOUTT, is om nuwe en groter sonkragwatersuiweringsisteme te ontwikkel. WATERSPOUTT is die akroniem vir "water sustainable point-of-use treatment technologies".

Die ideaal is om 'n sisteem te ontwerp wat daagliks genoeg water kan suiwer ten einde in huishoudelike behoeftes te kan voorsien, sowel as in die behoeftes van skole en klinieke.

"Die idee is om deur middel van reënwateroestingstegnologie drinkbare water te verskaf, aanvullend tot dié wat deur munisipaliteite verskaf word. Mense kan hierdie gesuiwerde reënwater dan gebruik vir huishoudelike aktiwiteite soos skottelgoedwas, wasgoedwas en vir persoonlike higiëne," voeg sy by.

Die tegnologie wat in SODIS gebruik word, spruit uit 30 jaar se navorsing. Dit is steeds een van die eenvoudigste watersuiweringstegnologieë wat ook koste-effektief is. Dit gebruik die gekombineerde effek van ultravioletstraling en die hitte wat deur sonlig gegenereer word om die hele mikrobespektrum en selfs bakterieë soos Vibrio cholerae en protozoa soos Cryptosporidium onskadelik te stel.

Die projek word gefinansier deur die Europese Unie se Horison 2020 programme en gelei deur prof. Kevin McGuigan van die Royal College of Surgeons in Ierland. Hy is al langer as 20 jaar by SODIS-navorsing betrokke en het die weg gebaan vir die gebruik en bevordering van die tweeliterbottel SODIS-tegnologie.