Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Roxy se visier op Rio gestel
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 29/08/2016

Om haar studies met haar loopbaan as Paralimpiese fietsryer te balanseer, is vir Roxy Burns (27) 'n groter uitdaging as om haar gestremdheid baas te raak.

Roxy, wat tans haar honneursgraad in Opvoedkunde doen, ly aan Ataxia Telangiectasia (AT), 'n seldsame, genetiese, progressiewe siekte wat manifesteer as 'n kombinasie van serebrale gestremdheid, spierdistrofie en immuniteitstoornisse. Albei haar ouers het die resessiewe geen wat hierdie toestand veroorsaak en Roxy se broer James, wat besig is met sy meestersgraad in Geo-informatika, ly ook aan AT.

Alhoewel haar vooruitsig met die oorspronklike diagnose maar sleg gelyk het – die meeste AT-lyers is in 'n rolstoel wanneer hul tien jaar oud is en baie bereik nie hul twintigste verjaardag nie – is sedertdien vasgestel dat die Burns-kinders 'n atipiese, ligte weergawe van die toestand het.

Roxy moet hoofsaaklik simptome van serebrale gestremdheid te bowe kom – probleme met balans, koördinasie en moegheid – en dit het haar nie gekeer om haar eerste graad te kry of op die internasionale fietsryverhoog deel te neem nie.

"Ek het nie baie hulp nodig om onafhanklik te wees nie," sê Roxy. "Ek is geseënd om AT net lig te hê. Ek is in werklikheid dankbaar om gestremd te wees. Mense vind dit vreemd as ek dit sê, maar ek sou nie andersins so baie geleenthede gehad het of soveel mense oor die wêreld heen ontmoet het nie."

Sy het in 2006 aan Rhenish Meisieskool gematrikuleer en is die volgende jaar na die US waar sy later haar BA-graad in sportwetenskap behaal het. Haar fietsryloopbaan het aan die begin van haar hoërskoolloopbaan begin en haar eerste internasionale kompetisie was die Internasionale Sport en Rekreasievereniging se wêreldkampioenskap vir serebraalgestremdes in die VSA in 2005. 

"Ek spesialiseer in baanfietsry (parafietsry) en is tans vyfde op die wêreldranglys. Daar is vyf fietsklasse, C1 tot C5, met C1 wat die ergste gestrem is en C5 wat die minste geaffekteer is," verduidelik sy. Sy is onlangs geherklassifiseer van C4 na C3.

Roxy het Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele in Londen en Beijing verteenwoordig en beskryf albei as 'n fantastiese ervaring. "Veral in Londen was die atmosfeer ongelooflik en die stadion stampvol. Die skare het vir elke enkele ryer geskree."

Haar visier is nou op die Paralimpiese Spele in Rio gestel. Sy neem deel aan die 500m-tydren en die 3 000m individuele agtervolgingitem op die baan. Haar fokus is egter spesifiek op die 500m-tydrenitem aangesien sy glo dit is waar sy die beste kans op 'n medalje het.

"Dit gaan goed met my voorbereiding vir Rio want ek het iemand gekry wat my help om my baanprogram te implementeer. Dit was my grootste bekommernis – dat ek nie genoeg tyd op die baan gekry het nie.

"Ek het 'n teleurstellende Wêreldkampioenskap in Maart gehad en nie so goed gevaar soos ek moes nie. Ek het teruggekom met baie werk om te doen."

Roxy het verlede week by verskeie skole besoek afgelê as deel van die afskeidfunksies vir die Stellenbosch Sportambassadeurs wat vandeesweek na die Paralimpiese Spele vertrek. Die Stellenbosch Sportambassadeurs (SSA)-inisiatief wil nie net verseker dat plaaslike atlete die beste moontlike ondersteuning en blootstelling kry nie, maar bied ook aan die die atlete die geleentheid om hul stories met die gemeenskap te deel.

"Ek dink die SSA-inisiatief is fantasties om bewusmaking te skep. Aangesien die SSA-inisiatief alle atlete (Olimpies en Paralimpies) insluit, help dit die dorp om ons as EEN span te beskou, wat dieselfde doelwit nastreef.

"Ek weet nie hoeveel ek het om terug te gee nie, maar ek wil graag probeer om jongmense te inspireer deur hulle te wys enigiets is moontlik."

Haar boodskap is: "Gee jou alles en werk so hard as wat jy kan om te kry wat jy wil hê."

Hierdie berig is aangepas van 'n vorige berig wat vir die Universiteit Stellenbosch geskryf is: http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=2811