Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser ontvang gesogte studiebeurs
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 18/08/2016

Dr Charles Awortwe het die gesogte Carl Duisberg-studiebeurs van die Bayer Wetenskap- en Onderwysstigting (Afrika-talent) ontvang om vir ses maande lank navorsing te doen aan die Instituut vir Kliniese en Eksperimentele Farmakologie (IKEF) van die Christian-Albrechts Universiteit van Kiel in Duitsland.

Awortwe, ʼn nadoktorale genoot in Kliniese Farmakologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US), het die IKEF vanaf Januarie tot Junie vanjaar besoek om navorsing te doen oor die gebruik van kruiemiddels saam met gewone medikasie. 

Hy spits sy navorsing toe op die interaksie tussen verskillende middels en tussen kruie en middels. Awortwe stel veral belang in die moontlike regulering van sitochroom P450 (ʼn heterogene groep hemoproteïene wat as ensieme funksioneer) deur plantkunidge middels, die middel-effluks of -uitstromingsboodskappers en die verandering in mikro-ribonukleïensure (miRNS) wanneer antiretrovirale en chemoterapeutiese medikasie saam toegedien word.

Awortwe het gedurende sy kort besoek aan die IKEF vasgestel daar is twee nuwe miRNS-boodskappers wat moontlik 'n invloed kan hê op die newe-effekte wat met sekere kankerbehandeling gepaardgaan.

Die wetenskaplikes aan die Universiteit van Kiel is spesialiste op die gebied van molekulêre farmakologie en is voortdurend besig om hulle navorsing na praktyk om te skakel, met klinici en wetenskaplikes wat goed saamwerk om gesondheidsorg te verbeter. "Ek het eerstehandse ondervinding opgedoen oor nuwe navorsingsmetodologieë wat tot voordeel sal strek van ons nagraadse studente in die Afdeling Kliniese Farmakologie," het Awortwe gesê."

Volgens Awortwe is dit ʼn veld wat hy graag verder sal wil ondersoek. "Ons moet probeer om die patofisiologie van siektes en die voortdurende toename in middelweerstandigheid te verstaan deur weer te kyk na die grondbeginsels van molekulêre biologie en bioinformatika indien ons gesondheidsorg in ons kliniese omgewings wil verbeter," het hy gesê. "Sogenaamde presisie-medisyne (ʼn model wat pasgemaakte gesondheidsorg voorhou), word tans beskou as ʼn doeltreffender behandelingsmetode. Dit is daarom nodig om die samewerking tussen klinici en wetenskaplikes te bevorder wanneer navorsing na praktyk omgeskakel word.