Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrouewetenskaplikes in die voorste linie in die stryd teen TB
Outeur: Thato Motlhokodi
Gepubliseer: 17/08/2016

In die gees van Vrouemaand word die klem geplaas op van die fantastiese werk wat inspirerende vroue by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) doen.

Jong vroue wat 'n loopbaan in die wetenskap wil vestig moet "groot dink en moedig wees" en by ander vroue leer wat die weg gebaan het.

So sê een van Suid-Afrika se baanbreker-vrouewetenskaplikes, prof Eileen Hoal, wie se loopbaan daarop toegespits is om siektes op 'n molekulêre vlak te verken.

"Die stories van vroue in die wetenskap verskil breed, maar so te sê almal beklemtoon dat hulle loopbaankeuse in die wetenskap nie die aanvaarde loopbaan vir meisies was nie, en daarom meer moeite geverg het as die alternatiewe," sê Hoal, van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Universiteit Stellenbosch (US) se FGGW.

Alhoewel die wetenskapsveld tradisioneel deur mans gedomineer is, het vroue bygedra tot 'n paar van die grootste deurbrake in die wetenskap: van die ontrafeling van DNS-strukture, tot die ontdekking van splitsing, en die kartering van die oseaanvloer.

Ontmoet drie vrouewetenskaplikes wat belangrike werk doen in die stryd teen tuberkulose (TB), Suid-Afrika se dodelikste siekte. Die doktorale student Caroline Pule is vinnig besig om vir haarself 'n naam te maak, terwyl proff Samantha Sampson en Eileen Hoal leiers is in die veld van TB-navorsing. Hier is hulle stories:

 

Me Caroline Pule

Caroline Pule is 'n doktorale student aan die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika en 'n verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tuberkulosevereniging. Sy is onlangs by die Departement Wetenskap en Tegnologie (DWT) se Vroue in die Wetenskap-toekennings met ʼn TATA-beurs beloon vir haar doktorale studie wat fokus op die fisiologie van middelweerstandige TB.

Deur haar navorsing poog sy om ʼn beter begrip kry van die biologie van middelweerstandige TB en die gasheer-respons in binne die konteks van die gasheer-makrofaag – makrofage is selle wat deur die immuunstelsel geskep word wanneer infeksie voorkom. "Ek verken dit met behulp van proteomiese ontleding, gefluoresseerde verdunning en makrofaagmodel-eksperimente en konsolideer dan die uitslae met behulp van bioinformatika. My werk kan moontlik lei tot die ontwikkeling van nuwe middels om die oordrag van middelweerstandige TB teen te werk," verduidelik Pule.

Pule het al baie bereik in haar kort loopbaan en sy beklee leierskapsposisies in verskeie organisasies wat fokus op die uitwissing van tuberkulose, vroue in die wetenskap, leierskap en gemeenskapsontwikkeling. Sy het 'n MSc-graad in Molekulêre Biologie van die Universiteit Stellenbosch. Haar toekennings sluit die volgende in: in 2008 is sy benoem as een van die top-20 studente by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (waar sy voorgraads gestudeer het), sy het 'n merietebeurs ontvang wat al haar studiegelde gedek het en sy het haar BTech-graad in Mediese Biotegnologie voltooi met 'n totaal van 14 onderskeidings. In Maart 2015 het sy die TB-spitsberaad in Londen bygewoon waar sy een van drie toekennings ontvang het vir die beste plakkaataanbieding.

Sy is baie gelowig en het van kleins af geweet dat sy 'n doel wil dien in haar lewe deur terug te gee aan die gemeenskap, en ander te help. Haar belangstelling in die mediese wetenskappe spruit uit haar behoefte om mense te help.

Haar raad aan jong meisies wat 'n loopbaan in die wetenskap oorweeg is: "Jy moet voortdurend hard werk, en ekstra moeite doen om goeie punte te kry. Die lewe gaan oor keuses, dit maak nie saak wie jou familie is en of jy ryk of arm is nie. Jou agtergrond moet jou nie beperk tot loopbaan of droom jy wil volg nie – of jy nou 'n dokter, ingenieur, wetenskaplike wiskundige wil wees. Jy moet net gefokus en oplettend wees, hard werk en elke geleentheid wat na jou kant toe kom aangryp.

"Sê vir jouself 'jy kan dit doen', 'jy het wat nodig is om suksesvol te wees'. Neem beheer en droom groot," sê Pule.

 

Professor Samantha Sampson

Prof Samantha Sampson is 'n gevestigde navorser by die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika en het onlangs die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARCHI) in mikobaktomie van die Nasionale Navorsingsraad (NNR) ontvang.

Volgens haar moes sy hard werk om erkenning te kry as 'n vrouewetenskaplike en is sy een van 'n hele paar vroue in die veld van tuberkulosenavorsing wat gevorder het tot die vlak van professor.

Sampson se TB-navorsing is toegespits op mikobakterie-genetika, mikrobiologie, immunologie en dieremodelle van TB.

Van kleins af het sy 'n passie gehad vir biologie en wou sy graag 'n veearts word. Maar terwyl sy haar BSc-honneursgraad by die US gedoen het, het sy van plan verander. Sy het haar BSc-studies voortgesit tot op PhD-vlak en het daarna nadoktorale opleiding ontvang by Harvard Universiteit se Skool vir Openbaregesondheid en Imperial College London.

Sy is tans die leier van 'n navorsingspan in haar afdeling. "Die doelwit van die navorsingsgroep is om beter te verstaan hoe die TB-kiem, mikobakterium tuberkulose, met die gasheer omgaan om siekte te veroorsaak. Molekulêre mikobakteriologie en in vitro-infeksiemodelle word saam met data-ryke metodologieë soos heel-genoomrangskikking, transkriptomie, proteomie en lipidomie gebruik om die doelwit te bereik," verduidelik Sampson.

By die huis kyk Sampson graag haar gunsteling TV-program, Peaky Blinders. Sy geniet dit ook om haar honde af te rig en strand toe te gaan om te ontspan.

Vir jong vroue wat graag wetenskaplikes wil word, het sy die volgende raad: "Wees absoluut seker dat dit die loopbaan is wat jy wil hê, want dit is baie uitdagend. Maar as jy passievol is, en bereid is om hard daaraan te werk, is dit baie vervullend. Maak ook seker dat jy 'n goeie mentor het wat jou sal 'verkoop'."

 

Professor Eileen Hoal

Professor Eileen Hoal is 'n kernlid van die span by die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT)/Nasionale Navorsingstigting (NNS) se Sentrum van Uitnemendheid in Molekulêre TB-navorsing en die hoof van 'n navorsingsgroep in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika wat mense se genetiese vatbaarheid vir tuberkulose ondersoek. Die navorsing behels geval-beheer en familie-gebaseerde assosiasiestudies om gene te identifiseer wat verband hou met vatbaarheid vir TB. Hulle het onlangs begin om ook volgende generasie-rangskikking en eksoom-ontleding te doen.

"Ek was nog altyd baie lief vir die wetenskap, veral biologie, maar ek het gedink geneeskunde is vervelig. Na 'n wonderlike jaar as 'n BA-student, het ek met my BSc-studies begin, en het daarna my belangstelling gevolg deur die kinkels en draaie van mikrobiologie, immunologie, selbiologie, en uiteindelik gasheer-genetika vir TB," verduidelik Hoal, wat al vir die afgelope 20 jaar navorsing doen oor genetiese vatbaarheid vir TB.

Die mees belonende deel van haar werk is om eksperimente te doen, iets nuuts en onverwags te vind, en dan te probeer uitvind hoe dit werk.

Sy voeg by dat alhoewel dit moeilik is om 'n vrou te wees in 'n veld wat deur mans gedomineer is, dinge wel verbeter het vir vroue. Sy het 'n suksesvolle loopbaan én kinders gehad, maar gee te kenne dat sy opofferings moes maak in beide hierdie areas van haar lewe.

Sy gee die volgende raad aan jong meisies wat 'n loopbaan in die wetenskap oorweeg: "Glo in jouself en gaan daarvoor! Wees dikvellig. Gaan neem iemand in die beroep waarin jy belangstel waar, maar wees bewus dat hierdie 'oomblikke in tyd' nie die ware prentjie gee van hoe die werk werklik is nie."

 

*Thato Motlhokodi is 'n wetenskapsjoernalis-intern aan die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika. Sy het 'n BA-graad in Kommunikasie van die Noordwes-Universiteit. Met hierdie internskap wil sy graag wetenskap toeganklik maak aan almal.