Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ Landbou-ekonoom prof Nick Vink tot Reserwebank-direksie verkies
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 02/08/2016

Landbou-ekonoom prof Nick Vink van die Universiteit Stellenbosch (US) is deur die aandeelhouers van die Suid-Afrikaanse Reserwebank as nie-uitvoerende direkteur van die Bank se direksie verkies.

Prof Vink, wat voorsitter is van die Departement Landbou-Ekonomie in die Fakulteit AgriWetenskappe, is vir 'n drie jaar termyn verkies.

Nog 'n akademikus met US-bande, prof Ben Smit, is terselfdertyd tot 'n tweede termyn verkies. Prof Smit is 'n voormalige direkteur van die US se Buro vir Ekonomiese Ondersoek, in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Prof Vink sê hy hoop sy nuwe rol sal hom die geleentheid gee om te help skep aan 'n groter bewustheid oor hoe die Reserwebank se besluite 'n impak op die landbousektor het. "Ek wil ook die Bank attent maak op hoe gebeure in die landbou die breëre ekonomie beïnvloed," voeg hy by.

Hy het ʼn wye belangstelling in landbou-ontwikkeling in Afrika, en is ʼn gereelde kommentator en spreker oor sake soos grond- en landbouhervorming, beleid en die wynekomonie.

Prof Vink is ook onlangs verkies as die aangewese president van die Internasionale Vereniging van Landbou-ekonome (IAAE) – die eerste persoon uit Afrika om tot hierdie posisie benoem te word. Hy is 'n voormalige wenner van die Suid-Afrikaanse Landbouskrywersvereniging se nasionale Landboukundige van die Jaar.

Hy is onder meer ʼn ere-lid van die Suid-Afrikaanse en Afrikawye genootskappe vir landbou-ekonome, asook dié van die Amerikaanse Genootskap van Wynekonome.

Media navrae:

Prof Nick Vink
Voorsitter: Departement Landbou-ekonomie, Universiteit Stellenbosch
021 808 4899
nv@sun.ac.za