Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​SUNScholar eerste op Afrika ranglys
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 02/08/2016

SUNScholar, die institusionele bewaarplek van die Universiteit Stellenbosch, het pas die eerste posisie in Afrika behaal volgens die Julie 2016 uitgawe van die wêreld ranglys van oop toegang navorsingsbewaarplekke. 

Die rangorde word bepaal deur die "Ranking Web of World Repositories". SUNScholar word bestuur deur die Biblioteek- en Inligtingsdiens. Die institusionele bewaarplek beklee nie slegs die eerste posisie op die kontinent nie, maar ook die 84ste posisie wêreldwyd uit 'n totaal van 2275 bewaarplekke. In die sogenaamede "institutional repositories (IR) only ranking" beklee SUNScholar die 68ste posisie.

Professor Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies het die volgende genoem: "Hierdie prestasie van Biblioteek- en Inligtingsdiens in terme van die opbou en ontwikkeling van SUNScholar is belangrik. Dit ondersteun die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot Oop Toegang tot wetenskaplike inligting en die bevordering van navorsingsuitsette en innovasie as sentrale doelwitte van Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies".

Die doel van SUNScholar is om die sigbaarheid van, en toegang tot, Stellenbosch Universiteit navorsingsuitsette te bevorder. Navorsingsuitsette word openlik met die res van die wêreld gedeel en terselfdertyd bewaar in 'n sentrale argief. Volgens Ellen Tise, Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inlingtingsdiens is "die behaal van die eerste posisie op die wêreld ranglys bewys dat US navorsingsuitsette met die wydste gehoor moontlik gedeel word en dat Afrika navorsing al hoe meer globaal toeganklik is".

Die doel van die "Ranking Web of World Repositories" is om Oop Toegang inisiatiewe te ondersteun en gratis toegang tot wetenskaplike publikasies in elektroniese formaat en ander akademiese materiaal te bevorder. Die indikatore wat hul gebruik meet die globale sigbaarheid en impak van institutuionele bewaarplekke. Verskeie kriteria word in ag geneem wanneer bewaarplekke gemeet word, onder andere grootte, sigbaarheid, inhoud en die sogenoemde "scholar" kriterium. Laasgenoemde verwys na die totale getal items van die bewaarplek wat binne Google Scholar gevind kan word.

Vir meer inligting, kontak Mimi Seyffert-Wirth