Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van Maties na Springbokke vir Sportwetenskap-alumnus Warren Adams
Outeur: Sport Science: Media / Sportwetenskap: Media
Gepubliseer: 29/07/2016

Dit het hom meer as 'n dekade geneem om bo uit te kom en vir die voormalige Sportwetenskap-student Warren Adams is volharding en 'n bereidwilligheid om te leer die sleutel tot sukses.

In April vanjaar is dié oud-Matie as nuwe krag- en kondisioneringsafrigter van die Springbok-rugbyspan aangewys. Adams het sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar hy 'n meestersgraad behaal het.

Adams werk al sedert 2004 as 'n krag- en kondisioneringsafrigter. Hy het in 2005 by Maties Rugby betrokke geraak en daar gebly tot 2012.

"Gedurende my sewe jaar by Maties het ek ook gehelp met kondisionering by die Westelike Provinsie Rugby-instituut en was ek verantwoordelik vir die WP se o.19 Curriebeker-span."

Die eerste nasionale span saam met wie Adams gewerk het, was die SA Rugby Studentespan in 2009.

"Van daar was ek bevoorreg om met die SA Skolespan en Junior Springbokke te werk tot en met 2015. Verlede jaar het ek die Springbokke met hul voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi gehelp en vanjaar is ek aangestel as die Springbokke se krag- en kondisioneringsafrigter. "

Volgens Adams is dit belangrik om so gou moontlik by spanne betrokke te raak as jy die einddoel het om eendag vir 'n span soos die Springbokke of enige ander senior nasionale span te werk. Hy het ook gesê dat dit noodsaaklik is om deursettingsvermoë aan die dag te lê en 'n bereidwilligheid te hê om te leer.

"Raak betrokke by 'n span en doen soveel moontlik, selfs al beteken dit jy moet waterbottels volmaak of agter balle aanhardloop. Ek het ook gevind 'boekkennis' beteken niks as jy dit nie kan toepas in 'n spesifieke omgewing nie. In rugby verander jou omgewing gedurig en moet jy in staat wees om daarby aan te pas."