Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regstreekse videovoer van die Rektor en die Libertas Koor na Duitsland – ’n eerste vir die US
Outeur: Dr JP Bosman
Gepubliseer: 28/07/2016

Toe die Duitse tegnici ons laat weet het dat daar nog net vyf minute oor was voor ons regstreeks sou uitsaai, het ons geweet dat die spanwerk en beplanning vir die videovoer van die Rektor en die Libertas Koor regstreeks na Duitsland vrugte afgewerp het. 

Toe die Libertas Koor en die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking in Januarie 2016 deur die Wider Outlook Works Festival genader is om 'n aptytwekker-video van die koor te maak en om die regstreekse videovoer tydens die fees vanaf en na Duitsland te fasiliteer, het ons besef dat hierdie nuwe uitdaging uitstekende samewerking sou verg. 

Die Sentrum vir Leertegnologieë het die projek bestuur, die inleidende video vir Duitse televisie geproduseer en die regstreekse videovoer op die dag gefasiliteer (met bystand van die klankmaatskappy Audiopimps). Cilnette Pienaar, 'n koorlid, het die draaiboek vir die video geskryf en die koor (natuurlik!), waarvan die een helfte op Stellenbosch was en die ander helfte in Duitsland, het op die dag van die videovoer op 7 Mei opgetree. Die Fakulteit Teologie het die plek en logistiese ondersteuning verskaf.

Buiten die Libertas Koor, onder leiding van prof Johan de Villiers wat vir drie weke vóór die fees deur Duitsland gereis het om deelnemers aan 'n massakoor te leer hoe om Karl Jenkins se Peacemakers op die aand van 7 Mei op te voer, het die geleentheid ook die Rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Wim de Villiers, en prof Mark Swilling van die Volhoubaarheidsinstituut ingesluit. Die koor het ook die Suid-Afrikaanse volkslied en Cantate Domino tydens die regstreekse videovoer van die Climate Justice Now! forum gesing. 

Die helfte van die Libertas Koor wat in die Gerry Weber Stadion in Halle was, het die regstreekse vidoevoer geopen deur die eerste twee verse van Nkosi Sikelel' iAfrika te sing, met die tweede deel van die volkslied wat deur die ander helfte van die koor, in die Attie van Wyk Ouditorium in die Fakulteit Teologie, voltooi is. Prof de Villiers het toe die fees uit Stellenbosch toegespreek, waarna prof Swilling vanaf die verhoog in Duitsland as deel van 'n Klimaatsgeregtigheidspaneel gepraat het. Ná die van stapel stuur van die One1Climate Club het die Stellenbosse helfte van die koor Cantate Domino begin, met die Duitse helfte wat toe oorgeneem het en die lied voltooi het. Die geleentheid was 'n groot sukses. 

Hierdie tweerigting regstreekse videovoer-ervaring was beslis 'n eerste vir die Universiteit Stellenbosch en het 'n wonderlike geleentheid verskaf vir die US om nie net sy verbintenis tot die bekamping van klimaatsverandering deur navorsing en onderrig en sy uitnemendheid in kulturele en musikale diepte ten toon te stel nie, maar ook om te wys dat ons innoverend is en voorbereid is vir die digitale toekoms van globale akademiese samewerking en hoër onderwys.