Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hepatitis kan deur vroeë optrede uitgewis word
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 28/07/2016

Die World Health Assembly (Wêreldgesondheidsbyeenkoms) het in Mei vanjaar vir die eerste maal in die geskiedenis ʼn strategie aanvaar om virale hepatitis uit te wis. Na aanleiding daarvan is op die tema "Uitwissing" besluit vir vanjaar se Internasionale Hepatitis-bewusmakingsdag. Hepatitis is die ontsteking van die lewer wat deur verskeie virusse, bekend as hepatitis A, B, C, D, en E virusse veroorsaak word.

Daar is ʼn entstof beskikbaar wat die hepatitis B-virus (HBV) kan elimineer. Dié entstof was die eerste wat kanker kon voorkom – deur immuniteit teen infeksie op te bou voorkom dit ook die ontwikkeling van chroniese infeksies en langtermyn newe-effekte, soos lewerskrompeling (sirrose) en lewerkanker (hepatosellulêre karsinoom). Die toediening van die hepatitis B-entstof tydens geboorte kan die oordrag van die HBV vanaf ʼn geïnfekteerde moeder na haar baba verhoed, maar in Suid-Afrika en baie ander lande in die Afrika suid van die Sahara, word die entstof eers op ses weke toegedien, wat die baba by geboorte vatbaar maak vir infeksie.

Na raming het meer as 2.5 miljoen Suid-Afrikaners chroniese HBV-infeksie onder lede, en hulle het dus ʼn groter risiko om lewerkanker te ontwikkel. Volgens die onlangse GLOBOCAN-verslag word dié siekte wêreldwyd beskou as die derde mees algemene van kankersterftes.

ʼn Studie wat deur navorsers aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is, het bewys dat infeksie met beide die HBV en MIV die ontwikkeling van lewerkanker versnel. Die meerderheid van pasiënte wat lewerkanker kry is jong swart mans. Hulle meld meestal op ʼn laat stadium by gesondheidsfasiliteite aan en die oorlewingsyfers vir hierdie pasiënte is baie laag, met meer as die helfte wat nie langer as ʼn jaar na diagnose oorleef nie. Dit het daartoe gelei dat chroniese hepatitis die bynaam "die stille moordenaar" gekry het. Die enigste manier om hierdie situasie te vermy, is deur chroniese HBV-infeksie betyds te diagnoseer en onmiddellik toepaslike terapie toe te dien.

Die Virale Hepatitis Navorsingsgroep werk saam met Life Assay Diagnostics, ʼn biotegnologie-maatskappy, om ʼn praktiese toets te ontwikkel wat by gesondheidsorgfasiliteite toegedien kan word om virale hepatitis B en HBV-aansteeklikheid gelyktydig aan te dui.

"Te midde van die toenemende beskikbaarheid van middels vir die behandeling van HBV-infeksies, is die gebrek aan kostedoeltreffende diagnostiese en moniteringsmetodes in omgewings waar hulpbronne skaars is des te meer opvallend," sê dr Monique Andersson, hoof van die Virale Hepatitis Navorsingsgroep by die FGGW se Afdeling Geneeskundige Virologie.

Andersson het in 2014 getoon dat swanger vroue met slegs hepatitis B, ook hoë virale ladings van die HBV kan hê en daarom die risiko loop om die infeksie na hulle babas oor te dra indien daar nie ingegryp word nie.

"Daar word in die meeste areas in Afrika suid van die Sahara steeds nie gereelde toetse tydens swangerskap gedoen vir hepatitis B nie. Hoogs aansteeklike swanger vroue word dus nie uitgeken nie en niks kan dus gedoen word om die risiko te verlaag dat hulle die infeksie aan hulle babas oordra nie," sê Andersson.

Die navorsingsgroep maak voorspraak daarvoor dat die eerste dosis van die hepatitis-inenting nader aan geboorte toegedien moet word om die risiko van perinatale infeksie te verlaag. Hulle bearbei hulle ook vir gereelde toetsing vir HBV-infeksie gedurende swangerskappe wanneer MIV gediagnoseer word. Die groep beveel ook aan dat daar meer bestee moet word om te verseker dat pasiënte met HBV-infeksie behoorlik behandel word, aangesien dié groep tans afgeskeep word in terme van behandeling.

Die navorsingsgroep het in 2010 met ʼn studie in die Wes-kaap bevestig dat die HBV oorgedra word na babas deur moeders wat met beide die HBV en MIV geïnfekteer is. "Ons eerste studie het getoon dat swanger vroue geïnfekteer met die HBV en MIV, hoë ladings van die HBV het en dus die risiko loop om die infeksie na hulle pasgebore babas oor te dra, ten spyte daarvan dat ʼn veilige, goedkoop en doeltreffende entstof beskikbaar is," het Andersson gesê.

Die Wêreldgesondheidsbyeenkoms wil onder meer die aantal nuwe HBV-infeksies met 90% verminder en die aantal jaarlikse sterftes weens chroniese virale hepatitis verminder van 1.4 miljoen na minder as ʼn halfmiljoen teen 2030. Deur hierdie doelwitte te bereik, kan virale hepatitis uitgewis word en sal dit nie meer ʼn openbare gesondheidsgevaar inhou nie. Dit is wel belangrik om daarop te let dat die uitwissing van virale hepatitis nie sal beteken dat dit heeltemal uitgeroei is, soos wat die geval met pokkies was nie.

Hepatitis B kan uitgewis word en meer as 4 miljoen lewens kan wêreldwyd gered word indien daar voortgesette bewusmakingsveldtogte, skakelling met regerings en meer besteding is. Andersson versoek lede van die publiek om te help om bewusmaking van virale hepatitis te verhoog deur die hutstekens (hashtags) #4000voices en #NOHep te gebruik om mense tot aksie oor te haal.