Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB-verteenwoordigers woon Europese plantbiologiekongres by
Outeur: C van der Vvyer
Gepubliseer: 28/07/2016

Personeel en nagraadse studente van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) het die halfjaarkongres getiteld Plant Biology Europe EPSO/FESPB 2016 in Praag in die Tsjeggiese Republiek bygewoon. Die doel van hierdie kongres is om navorsing, onderrig en die uitruil van inligting onder plantbioloë te bevorder, met die uiteindelike fokus op die verbetering van die impak en sigbaarheid van plantwetenskap in Europa en verder. Byna ʼn duisend deelnemers van oor die wêreld heen het by die kongres byeengekom. Dit is georganiseer deur die European Plant Science Organisation (EPSO) en die Federation of European Societies of Plant Biology (FESPB), wat bestaan uit die grootste aantal onafhanklike akademiese organisasies wat plantgebaseerde entiteite en plantwetenskaplikes in Europa verteenwoordig.

As deel van die IPB se pogings om ons nagraadse studente aan voorpunt-plantbiotegnologienavorsing bekend te stel, stel ons ons PhD-studente aan internasionale gehore bloot waar hulle hul wetenskaplike bevindinge kan kommunikeer en bespreek. Die Plant Biology Europe Congress 2016 was so ʼn geleentheid. Dr James Lloyd en twee van sy PhD-studente, me. Anke Wiese en me. Zanele Mdodana, het hul navorsing in onderskeidelik ʼn mondeling en twee plakkaataanbiedinge aangebied. Anke se mondelinge aanbieding was getiteld: "The chemical nature of parasitic and mycoheterotrophic metabolism involves the reconfiguration of substrate usage in order to sustain the tricarboxylic acid cycle", Zanele se plakkaat was getiteld: "Disruption of GWD1 orthologs in Physcomitrella patens alters colony morphology and decreases growth" en dr. Lloyd se plakkaat was getiteld: "Increasing starch- bound phosphate through manipulating sex genes in potato tubers". Dr. Lloyd is wêreldwyd bekend vir sy navorsing oor koolstofmetabolisme met spesifieke klem op styselmetabolisme in plante, en hierdie kongresbydraes het van die werk gedek wat onder sy leiding uitgevoer is.