Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mandela Week maak ’n verskil
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 26/07/2016

Personeel en studente aan Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope week (18-22 Julie) bewys dat selfs die kleinste goeie daad 'n groot verskil in iemand se lewe kan maak.

 Veskeie aktiwiteite ten bate van die gemeenskap was vir die Universiteit se  Mandelaweek beplan waaraan personeel, studente en ander vennote van die Universiteit kon deelneem. Hierdie aktiwiteite vorm deel van die nasionale 67 Minute vir Mandela-veldtog waaraan Suid-Afrikaners jaarliks deelneem om die lewe van president Nelson Mandela te gedenk.



Maandag (18 Julie) het personeel van die Universiteit se Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling en die afdeling Sosiale Impak die binnemure van die Stellenbosch Werksentrum geverf. Dié werksentrum bied vaardigheidsontwikkeling vir volwassenes met gestremdhede.

"Dit is vir my lekker om te sien hoe een goeie daad 'n impak om soveel mense se lewens kan hê," het Michelle Willems van die Universiteit se Eenheid vir Gestremdhede gesê.



Op die Tygerberg-kampus het personeel reeds etlike weke gelede begin om basiese persoonlike higiëne produkte in te samel vir die ma's van babas wat in die hospital opgeneem is. Baie van die babas is in die neo-natale eenheid opgeneem en moet hul mammas dikwels dae aaneen by hul kinders wees. Met die hulp van die publiek en studente kon elke baba ook 'n gebreide mussie, kombersie en teddiebeer kry.



Woensdag het US-personeel en studente  en ander besighede op die dorp saam gewerk en meer as 10 000 toebroodjies gemaak vir die Toasties for Tummies-veldtog. Die broodjies is by skole op die dorp, sowel as by welwillendheidsaksies versprei.

"Verskeie organisasies het saam gewerk om op ʼn tasbare wyse te illustreer  wat 'gemeenskap' beteken. Soms vergeet 'n mens dat een toebroodjie ʼn boublokkie is om iemand se toekoms te help bou," sê dr Antoinette Smith-Tolken, waarneemende Hoof: Sosiale Impak.

Die Nagraadse en Internasionale kantoor het hul tyd en inisiatief gebruik om die belangrikheid van onderwys uit te lig. Hulle het 'n fondsinsameling gehou om skryfbehoeftes vir leerders by die Laerskool Vlottenberg in Stellenbosch te koop. Hierdie inisiatief het veral groot aftrek by internasionale studente gekry.

Verskeie departemente van die Universiteit het saamgespan om nie-bederfbare verbruikersitems (geblikte kosse, gedroogte kos, seep, tandepasta, ens) in te samel om aan behoeftige studente te skenk.

Die Studenteraad se  Sosiale Impak-portefeulje het 'n projek bekend gestel om lae-koste, veilige stofies aan gesinne in en om Stellenbosch te skenk. Die stofies, die Cleancook, is 'n veiliger en goedkoper alternatief as oop vure en parafienstowe wat steeds in baie huishoudings vir kookdoeleindes gebruik word.

Vrydag het personeel en studente 'n kultuur van lees by Laerskool Lückhoff aangemoedig waar hulle stories aan die leerders voorgelees het. Leerders moes ook self aan leesaktiwiteite deelneem. Die dag is afgesluit met 'n sokkerwedstryd by die skool op ʼn veld wat ook as deel van die Mandelaweekaktiwiteite voorberei is vir toekomstige gebruik deur die skool.