Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leerders baat by vakansieprogram
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 26/07/2016

​Maties Sport is daartoe verbind om geleenthede vir positiewe interaksie tussen US-studente, US-personeellede en plaaslike gemeenskappe te bevorder. 

’n Groep van 42 leerders van skole in die Stellenbosch-gemeenskap het in Junie ’n vier dae lange vakansieprogram, aangebied deur Maties Sport in samewerking met die Departement Chemie en Polimeerwetenskappe en Maties Gimnasium, bygewoon. 

Die tema was “Holistiese ontwikkeling met sport as medium”.

Die leerders het aan die volgende aktiwiteite deelgeneem: ’n chemieklas waarin hulle hul eie speelklei voorberei het, verskeie sportkodes (netbal, sokker, basketbal, pluimbal), 'n tromsessie en ’n staptog in die berg agter Coetzenburg. Hulle het ook die Maties Gimnasium, die Stellenbosch-museum en Pulp Cinema in die Neelsie besoek, waar hulle ’n fliek gekyk het.