Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties wil ander inspireer as Stb-sportambassadeurs
Outeur: Outsider Communications
Gepubliseer: 26/07/2016

​Verskeie Matie-atlete en 'n alumna van die Universiteit Stellenbosch het rolle as Stellenbosch-sportambassadeurs aanvaar.

Die Stellenbosch Sport Ambassadors-program (SSA) wil plaaslike atlete bemagtig op hul reis na uitnemendheid.

Die program is die geesteskind van die bekende atletiekafrigter en US-lektor dr Suzanne Ferreira.

"'n Goeie familie help jou om doel te identifiseer en jou potensiaal te ontwikkel, en help jou ook om die reis te geniet met 'n intensiteit wat nie andersins moontlik sou wees nie. Kom ons skep 'n Stellenbosch-familie," het Ferreira gesê.

Die program is 'n vennootskap tussen die Stellenbosch Munisipaliteit, die Stellenbosch Akademie vir Sport en Maties Sport. Caylix Sport bestuur die projek.

Die program se visie is om die Stellenbosch-sportambassadeurs te bemagtig op hul reis na uitnemendheid deur die vermoëns van die dorp by hul droom te betrek. Hul bemagtiging sal Stellenbosch as 'n dorp van uitnemendheid bemark en kan die onmiddellike gemeenskap inspireer. Die eerste bemarkingsveldtog is gesentreer rondom die Olimpiese en Paralimpiese Spele in Rio wat in Augustus en September 2016 plaasvind.

Die doelwit is om die atlete die beste ondersteuning en blootstelling te gee tydens hul voorbereiding en kompetisies. Al die huidige ambassadeurs is gekies om Suid-Afrika by óf die Olimpiese óf die Paralimpiese Spele te verteenwoordig.

Die eerste groep ambassadeurs is Ilse Carstens, Fanie van der Merwe, Dyan Buis, Arnu Fourie, Roxy Burns, Anruné Liebenberg, Hendri Herbst, Zanele Situ, Charl du Toit, Mari Rabie en Justine Palframan. 

Die kriteria om 'n Stellenbosch-sportambassadeur te wees, is dat die atleet in Stellenbosch moet woon, by 'n sportklub in Stellenbosch geregistreer moet wees en hulle rol as 'n ambassadeur moet aanvaar.

Die ambassadeurs sal die geleentheid kry om met die Stellenbosch-gemeenskap in aanraking te kom. Hulle word ook aangemoedig om hul ervarings met die Stellenbosch-gemeenskap te deel deur sosialemediakanale.

Volg die ambassadeurs op Facebook, Twitter en Instagram by @SboschSA.