Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie wys hoe Afrikaanse musiekplaat-opnames land se geskiedenis weerspieël
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/07/2016

"Terwyl baie navorsers wat oor Suid-Afrika se geskiedenis skryf ons geskiedenis uit 'n politieke perspektief bekyk, is my navorsing 'n poging om na die geskiedenis uit 'n heel ander perspektief te kyk. Musiek bied jou daardie ander lens. Baie mense luister na musiek en my navorsing wys dat daar 'n verbintenis is tussen die musiek waarna ons luister en die waardes wat ons het."

So verduidelik dr Schalk van der Merwe, buiten dosent ook vryskut baskitaarspeler, sy navorsing oor die geskiedenis van Afrikaanse musiek in Suid-Afrika wat hy as deel van 'n doktorale tesis in die Departement Geskiedenis gedoen het. Van der Merwe het in Desember verlede jaar sy PhD-graad by die Universiteit Stellenbosch verwerf.

"Dit was regtig my poging om te kyk na die gewone mens," vertel Van der Merwe.

Sy tesis analiseer die interaksie tussen politieke gebeure en populêre musiek met spesifieke verwysing na opgeneemde Afrikaanse musiek oor die laaste 115 jaar. Dit begin met die eerste  opnames van die nasionale volksliedere van die Boererepublieke tydens die Anglo-Boereoorlog, en sluit af met uitdrukkings van rasse-eksklusiwiteit in post-apartheid Afrikaanse popmusiek. Sy navorsing verskaf voorbeelde van die ondersteuning van, en verset teen, die meesternarratief van Afrikanernasionalisme soos dit bestaan het vir groot gedeeltes van die twintigste eeu, en gee ook voorbeelde van hoe hierdie waardes nog manifesteer in die hede.

"Deur populêre musiek in te span as 'n lens, word 'n duideliker idee verkry van die lewens van gewone mense, gesien teen 'n agtergrond van fundamentele sosiale en politieke verandering. Deur 'n oorsig te skep van populêre musiek oor 'n lang historiese tydperk, word sekere opvallende temas in die ontwikkeling van Afrikanerkultuur oor hierdie periode – byvoorbeeld klassespanning en die herhaalde pogings deur kulturele nasionalistiese entrepreneurs om populêre Afrikaanse musiek te ko-opteer vir die Afrikanernasionalistiese projek – blootgelê," verduidelik hy.

Die eerste Afrikaanse musiekopnames, sê Van der Merwe, is opgeneem deur musikante wat in die vroeë 1900s in Londen gewoon het. Deur daardie musiek te bestudeer, kon hy kyk na hoe hierdie kunstenaars hul identiteit destyds uitgebeeld het.

"Dit was duidelik uit musiek en korrespondensie dat sommige van hulle stoere nasionaliste was en ook ondersteuners van Hertzog.  Ek het dus nie in my ondersoek gekyk na hoe die musiek klink nie, maar na die hoe die politieke geskiedenis gereflekteer word oor die verskeie dekades van plaatopnames. Byvoorbeeld in die dertigjare was daar konflik tussen platemaatskappye wat boeremusiekplate vrygestel het en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) – basies het die FAK nie gehou van die boeremusiek van die tyd nie, omdat hulle dit as minderwaardig geag het. Afrikaners buite die FAK het weer anders gedink oor hul kultuur en Afrikaner musiek," vertel Van der Merwe.

Sy navorsing lig ook die magstryd en elitisme wat tussen Hollandse Afrikaners en ander Afrikaners ontwikkel het in die eerste dekades van die 20ste eeu.

"Om opnames te maak was dus ook 'n vorm van nasionalisme," sê hy. "Daar was byvoorbeeld baie sterk klas elemente in die musiek – daar was jou boeremusiek en dan het jy die FAK gehad wat sterk nasionalistiese verbintenisse gehad het tot die Broederbond. Die enigste kapitaal wat hulle gehad het as joernaliste, dominees en onderwysers was hul kultuur. Die FAK was dus sterk gekant teen hierdie ander Afrikaanse kultuur van musiek luister en dans en partytjie hou. Daar is selfs skrywe oor hoe die arm Afrikaners hul gelde op plate en musiek spandeer het!"

Alhoewel Van der Merwe se navorsing spesifiek op Afrikaanse musiek fokus wat deur wit kunstenaars opgeneem is, verduidelik hy dat Afrikaanse musiek sterk invloede van alle oorde het.

"Net soos Afrikaans 'n vloeibare en multi-rassige taal is met vele kulture wat daarop inspeel, so ook is Afrikaanse musiek. Boeremusiek wat nou so 'n groot wit simbool geraak het, se wortels is glad nie eksklusief wit nie. Dit is net dat bruin kunstenaars nie destyds veel kans gegun is om musiek op te neem nie.

"Van die groot vaders van boeremusiek soos Hendrik Susan het met swart jazz musikante soos die Jazz Maniacs opgetree in die dertigs en hy is bekend as die vader van ligte Afrikaanse musiek," vertel Van der Merwe.

Kwêla musiek, sê hy, het byvoorbeeld gewild geraak onder wit musikante nadat hulle die musiekstyl by jong, swart seuns gehoor het wat in die middae vir hul ma's – wat gewoonik as huishulp in wit gemeenskappe gewerk het – gewag het en penniefluitjie gespeel het om die tyd vinniger te laat verbygaan.

In die sestigerjare het Afrikaanse musiek weer 'n sterk Europese inslag gehad met musiekopnames soos Gé Korsten se Erika. "Daar was 'n posisionering van Afrikaner kultuur as iets Europees, as iets wat nie van Afrika is nie."

Terselfdertyd was daar baie min oor die politieke klimaat in Suid-Afrika en veral apartheid gesing, maar sê Van der Merwe, "daardie skynbare hegemonie het begin ontrafel, veral na gebeure soos die Soweto-opstand in 1976, asook die arrivering van TV Suid-Afrika dieselfde jaar."

"Die grensoorlog het ook 'n groot impak op die psige van wit mans gehad en so het die musiek van die sewentigs en tagtigs meer op sulke kwessies begin fokus."

Tydens die tagtigs het kunstenaars deur middel van kabaret en literatuur meer begin praat oor die grenservaring, oor die dekonstruksie van die manlike beskermer en het jy daardie sentimente ook in Afrikaanse musiek begin sien.

"Ek dink die Voëlvry-beweging in 1989 was die mees akute uitbarsting daarvan. Voor dit het David Kramer deur middel van sy werk, onder andere ook saam met wyle Taliep Petersen 'n duidelike  boodskap begin projekteer."

In die 1990's, met die aanbreek van die post-apartheid jare, was daar weer 'n groot oplewing in Afrikaanse musiek en 'n groei in musiekfeeste.

Behalwe dat hy vir groepe soos Delta Blue en meer onlangs Bed on Bricks baskitaar speel, tree Van der Merwe gereeld ook op met Karen Zoid (en is te sien in haar bekroonde TV-reeks Republiek van Zoid-Afrika), en het al saam met van Suid-Afrika se bekendste Afrikaanse kunstenaars gewerk, soos Anton Goosen, Laurika Rauch en Valiant Swart.  

"Omdat ek self 'n musikant is, het ek al met baie kunstenaars in die Afrikaanse musiek-industrie saamgewerk en ken dit redelik goed. Die ironie is dat politiek en Afrikaanse musiek vandag  iets is wat meer kop uitsteek onder sommige hoofstroom kunstenaars, nie alternatiewes soos in die tagtigs nie. Die politieke inhoud verskil ook heeltemal. Kunstenaars soos Steve Hofmeyr is byvoorbeeld gereeld in die media oor politieke uitlatings rondom Afrikaner identiteit. Sy konserte funksioneer as kultureel homegene – en eksklusiewe - platforms waar mense van 'n sekere oortuiging veilig voel om te sê wat hulle wil sê en wat nie noodwendig in 'n publieke spasie gesê kan word nie – en wat natuurlik problematies kan wees."

Oor sy eie navorsing en die bydrae wat dit gemaak het tot navorsing oor die geskiedenis van Afrikaanse musiek, sowel as die impak van sy navorsing op hedendaagse debatte oor die ontwikkeling van Afrikaans binne universiteitsomgewings, sê Van der Merwe:  "My navorsing bied 'n kritiese blik op, en is 'n dekonstruksie van, die wit verstalting van Afrikaans. Dis 'n poging om te wys hoe Afrikaanse kultuur onderworpe was aan 'n sisteem wat dit wou stuur in 'n sekere rigting.

"Ek hoop dit is 'n geskiedenis wat wys hoe wyd die grense strek van wat dit beteken om Afrikaans te wees."