Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg-kampus vier Mandela-dag
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 26/07/2016

​Personeel en studente op die Tygerberg-kampus het vanjaar weereens Mandela-dag gevier in die gees van omgee, gee en deel waarvoor hulle bekend is.

Die bestuurspan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het, in samewerking met die Tygerberg-hospitaal se Fasiliteitsraad en bestuurspan, op Maandag, 18 Julie ʼn week van vierings begin deur die eerste van meer as 500 versorgingspakkies aan pasiënte in die Tygerberg-hospitaal uit te deel.

Me Nadia Goliath was aan die stuur van dié inisiatief vanuit die kantoor van dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak. Personeel het ruim bygedra en ook ywerig gehelp met die verpakking en uitdeel van die geskenkpakkies, wat toiletware, serpe en gebreide hoedjies ingesluit het. Die hospitaal se Fasiliteitsraad onder leiding van me De Jager het lapsakkies geskenk waarin die geskenkies verpak is. Skenkings is ook ontvang vanaf Giant Hyper, Pepkor se IT-afdeling en JDW Patologie Geïnkorporeer.

Geskenkpakkies is ook uitgedeel aan ma's wat saam met hulle babas en kinders in die Tygerberg-kinderhospitaal bly. Die kinders en babas het helderkleurige gebreide kombersies en speelgoed ontvang.

Goliath het gesê die pakkies is met groot waardering deur die pasiënte ontvang. "Een van die ooms het gesê 'die Universiteit Stellenbosch is ons eie mense' en die mammas in die kindersale was baie verras om ook pakkies te ontvang."

Me Marsha Maker van die Desmond Tutu TB-sentrum het gesê sy voel geseënd om deel van die projek te kon wees. "Dit het my nederig en dankbaar laat voel om hieraan te kon deelneem en so Madiba se nalatenskap te laat voortleef."

Die res van die items sal deur die Tygerberg-hospitaal se maatskaplike dienste gebruik word wanneer daar basiese items gegee word aan die pasiënte wat in die hospitaal opgeneem word. "Ons kan deur só ʼn eenvoudige daad waardigheid gee aan die gemeenskap wat ons dien," het dr Paul Chiapirelli, Direkteur van Kliniese Dienste by die Tygerberg-hospitaal, gesê.

Studente bedank verpleegpersoneel

Tygerberg-studente het sowat 1 700 sjokolades, elk verpak met ʼn spesiale boodskap, aan die verpleegpersoneel in Tygerberg-hospitaal uitgedeel om hulle te bedank vir hul bydrae tot tersiêre onderwys. "Ons het soveel as moontlik studente betrek sodat hulle oogkontak kon maak met die verpleegkundiges en hulle persoonlik bedank vir hulle onbaatsugtige hulp," het me Adri Brits, die Administratiewe Hoof van die Tygerberg Studenteraad, gesê.