Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SGBO ontvang toekenning vir die ‘beste publikasie’
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 21/07/2016

Prof Susan van Schalkwyk het die toekenning vir die Beste Publikasie vir 2016 ontvang by 'n onlangse konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gesondheidsopvoeders (SAAHE).

Van Schalkwyk, hoof van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (SGBO) by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het die toekenning ontvang vir 'n artikel getiteld "Understanding Rural Clinical Learning Spaces: Being and Becoming a doctor" wat in die joernaal Medical Teacher gepubliseer is. Proff Juanita Bezuidenhout ('n voormalige kollega by die SGBO) en Marietjie de Villiers, van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, was die mede-outeurs van die artikel.

Dit is een van 'n aantal artikels wat gespruit het uit 'n langdurige studie (vyf jaar) wat gedoen is om die implementering van die FGGW se Ukwanda Landelike Kliniese Skool (LKS) te evalueer.

"Dit was een van sewe artikels wat al gepubliseer is oor die implementasie van die LKS… en ons het verder beweeg as net 'n blote analise van kwalitatiewe data om te kyk na die ontwikkeling van 'n teoretiese posisie wat help om die LKS-'verskynsel' te verduidelik," sê Van Schalkwyk.

Volgens haar is hierdie toekenning 'n pluimpie vir die FGGW en SGBO en dien dit as 'n dryfveer om die laaste paar artikels vir die studie te finaliseer.

Navorsing oor gesondheidsberoepe onderwys is wêreldwyd 'n groeiende studieveld. "Navorsing is noodsaaklik as ons die unieke konteks wil verstaan waarin ons studente leer en ons onderrigpraktisyns onderrig gee. Ons moet die kennis daaroor uitbrei sodat ons in 'n beter posisie is om betekenisvolle praktyke van onderrig en leer voor te stel," sê Van Schalkwyk.