Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
15 Maties Parasport-klublede sal SA in Rio verteenwoordig
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 19/07/2016

Altesame 15 lede van die Maties Parasport-klub is by die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span ingesluit wat Dinsdag, 19 Julie, aangekondig is. Die Paralimpiese Spele vind van 7-18 September plaas in Brasilië plaas.

Onder die spanlede is vyf ingeskewe studente: Vier in die Fakulteit Opvoedkunde en een in die Fakulteit Regsgeleerdheid. Hulle is Anruné Liebenberg (atletiek), Charl du Toit (atletiek), Dyan Buis (atletiek), Roxy Burns (fietsry) en Hendri Herbst (swem).

Die atlete is op Stellenbosch gebaseer en is in dieselfde oefengroep as Maties-alumni Ilse Hayes, wat al vyf medaljes by drie verskillende Paralimpiese Spele gewen het, en Arnu Fourie en Fanie van der Merwe, wat albei aan hul derde Paralimpiese Spele sal deelneem.

"Ek voel baie geseënd en dankbaar om Suid-Afrika by my vierde Paralimpiese Spele te kan verteenwoordig," het Hayes gesê.

Twee Maties-veldatlete – die Paralimpiese veteraan Zanele Situ en spiesgooier Reinhardt Hamman – is ook by die span ingesluit.

Die bekende rolstoelatleet en Matie-alumnus Ernst van Dyk sal nie net aan sy sewende Paralimpiese Spele deelneem nie, maar is vir twee sportsoorte gekies: atletiek (rolstoel) én fietsry (handfiets). Ander lede van die Maties Parasportklub want by die span vir Rio 2016 ingesluit is, is Craig Ridgard, Justine Asher en Goldy Fuchs (almal fietsryers) en Achmat Hassiem (swemmer).

Die span bestaan uit 44 lede.

Drie plaaslike afrigters, dr Suzanne Ferreira, Dr Karin Hugo en Karin le Roux, sal die deelnemers vergesel.

Wentzel Barnard, bestuurder van die Maties Parasport-klub, is aangenaam verras oor die groot getal Maties wat by die span ingesluit is.

"Ek glo hulle gaan ongelooflike goeie ambassadeurs vir Maties en vir Suid-Afrika wees, en ek dink ons kan goeie resultate verwag."

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, het elke deelnemer wat by die span ingesluit is, gelukgewens.

"Dit is 'n fantastiese beloning vir hierdie atlete, fietsryers en swemmers wat jare lank met toewyding en deursettingsvermoë vir hierdie geleentheid voorberei het. Ons is trots op hulle en wens hulle alles van die beste toe."

Foto: Oefenmaats Charl du Toit en Fanie van der Merwe in aksie.