Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties "beste fietsry-universiteit in die land"
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/07/2016

​Maties Fietsry het hul USSA-titel suksesvol verdedig by die kompetisie wat in Potchefstroom aangebied is.

Die span het die kompetisie oorheers deur die geeltrui, groentrui, spanklassifikasie, alle heetkolle ("hot spots") behalwe een, sowel as al die skofte behalwe een in die padwedrenkompetisie te wen. Hulle het ook eerste en tweede gekom in die bergfietskompetisie.

Skofte is gewen deur Max Sullivan en Gert Heyns, wat bo-aan die algemene klassifikasie geëindig het. Dominic Calitz het die bergfietskompetisie gewen.

In die vroue-afdeling het Nicky Giliomee en Marie Kempf, albei bergfietsryers, baie moeite voor die kompetisie gedoen om van die padfietsrytegnieke onder die knie te kry.

Dié voorbereiding het gehelp, met Nicky wat derde in die algemene klassifikasie geëindig het. Sy het ook een skof gewen die geeltrui gedra ná die tydtoets. Sy en Marie het tweede en derde in die bergfietskompetisie geëindig.

Volgens Maties Fietsry se Max Sullivan is die span baie tevrede met wat hulle bereik het.

"Dit was 'n ware spanpoging. Die kompetisie was definitief sterker vanjaar en die hoogteverskil het veral ons eerste skof bemoeilik, maar ons het steeds daarin geslaag om dit te wen.

"Die span is baie sterk en daar was verskeie ander kandidate wat by die agtmanspan ingesluit kon geword het. Daar is baie fietsrytalent by die Universiteit Stellenbosch en Maties kan verseker as die beste fietsry-universiteit in die land gereken word, veral met die bekendstelling van die hoëprestasieprogram."

Varsity Sports sal ook in Oktober die eerste Varsity-bergfietskompetisie aanbied.

Fietsryers op foto: Gert Heyns, Kyle Basson, Max Sullivan, Ian Lategan, CP van Wyk, Ben Fish, Shaun Glover en Jacques Lloyd. Fotokrediet: Ralda van Wyk