Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Soet oorwinning vir Steinhoff Maties Hokkie-mans
Outeur: Maties Hockey / Maties Hokkie
Gepubliseer: 18/07/2016

Hulle het hulself die afgelope paar jaar teleurgestel by USSA-toernooie, maar vanjaar het die Steinhoff Maties Hokkie-mans uiteindelik die titel-hekkie oorkom om die eerste USSA-manstitel sedert 2009 vir die klub te wen.

Dylan Swanepoel en sy spanmaats het na USSA gegaan met die wete dat dit vir baie van hulle nou of nooit is om 'n ander titel as dié van plaaslike Westelike Provinsie-ligakampioen te wen. In 'n opwindende eindstryd teen Tuks – 'n herhaling van die Varsity Hokkie-halfeindstryd vroeër die seisoen – het Maties 'n voorsprong van 2-0 gehad, maar ná twee vinnige doele deur Tuks is die titel met 'n doelskiet-stryd beslis. Maties het senuwees van staal gewys en die trofee as oorwinnaars gelig.

"Die goue medalje by USSA beteken baie. Ons het baie hard gewerk hierdie seisoen; veral by ons voorbereidingskamp wat die toernooi voorafgegaan het. Ons het die laaste paar jaar onderpresteer by USSA. Om uiteindelik die goue medalje te wen, is 'n fantastiese gevoel," het kaptein Dylan Swanepoel gesê.

Die Maties het altyd 'n goeie spangees, maar verlede week het spelers en bestuur agtergekom dat iets spesiaals aan die gebeur is binne die geledere van die groep. 

"Die spangees was 'n belangrike deel van ons sukses. Ons was nog altyd 'n hegte span, maar vandeesweek was anders. Daar is groot klem geplaas om pret op en van die veld af te hê. Dit is baie belangrik dat almal geniet wat hulle doen."

Doelskieter Keenan Horne is aangewys as die Speler van die Toernooi. 

"Ons het vier wagwoorde gehad om ons te help om gefokus en kalm te bly op die veld. Een van die sleutelwoorde was vertroue. Dit is om te weet dat wanneer jou spanmaat jou druk of opdrag gee, dit suiwer tot die voordeel van die span is. Die individuele erkenning ná die goue medalje is oorweldigend. Die fokus vir die week was suiwer op die wen van die titel. Dit is altyd spesiaal om erkenning te kry, maar dit is my span wat my die geleentheid gee om my hart uit te speel en daarvoor is ek dankbaar."

Maties sal nou hul soeke voortsit vir 'n vierde agtereenvolgende WP-ligatitel wanneer hulle op Saterdag 23 Julie teen Ikeys in die volgende ligawedstryd te staan kom.