Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sewekampatleet wil ander inspireer om ook groot te droom
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 05/07/2016

​Vir Nienka du Toit (19), die SA Junior sewekampkampioen en eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch, is dit nie ongewoon om drie uur per dag op die atletiekbaan en in die gimnasium deur te bring nie.

Sy het as graad 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof besluit om haar op sewekamp toe te spits en haar droom is om Suid-Afrika by die Wêreldstudentespele en uiteindelik die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

"Dis groot drome," sê sy, "maar ek voel as jou drome jou nie bang maak nie, is hulle nie groot genoeg nie. Atletiek is my passie. Elke keer as dinge vir my bietjie te veel raak, is dit hierdie drome wat my motiveer om aan te hou veg."

Sewekamp bestaan uit hoogspring, verspring, gewigstoot, spiesgooi, 200m, 800m en 100m hekkies. Nienka het in Junie aan vier van hierdie items deelgeneem by die Afrika Junior Atletiekkampioenskap in Lusaka, Zambië, en 'n goue medalje gewen in die hoogspring, asook drie silwermedaljes (in verspring, 100m hekkies en gewigstoot). Sy het dié byeenkoms gebruik as voorbereiding die Afrika Senior Atletiekkampioenskap wat 'n week later plaasgevind het.

"My prestasies (in Zambië) voel steeds onwerklik. 'n Mens gaan altyd met die doel om goed te doen en te presteer, maar twee persoonlike bestes en vier medaljes is meer as waarvoor ek kon hoop. Sulke groot byeenkomste berei 'n mens ook voor vir die internasionale byeenkomste wat nog kom."

By die byeenkoms vir senior Afrika-atlete het sy die beste afstand behaal in die gewigstootitem vir sewekampatlete. Sy verdien tans die meeste punte in die hekkiesitem, en die minste in die 800m.

Die uitdaging vir 'n multisportatleet is om 'n goeie balans te handhaaf. Daar is ook altyd die risiko van beserings omdat daar vir sulke uiteenlopende items voorberei moet word.

"Dis te danke aan my afrigter, Seef le Roux, wat my program skryf, dat ek by al my items uitkom. My skedule is besig, maar my vertroue in Seef en sy program maak oefening lekker omdat ek weet dit gaan werk."

Hierdie BSc-student in haar eerste jaar sê sy is baie dankbaar teenoor haar Heemstede-koshuisvriendinne wat haar bystaan met haar akademiese verpligtinge.

"Hulle help my ongelooflik baie met werk wat ek gemis het en sit tot laat in die aand en help my met take. Dit is wel 'n baie groot uitdaging om genoeg slaap, oefening en studietyd in te kry en sonder die hulp van my vriende en familie sou ek dit nie kon doen nie."

Haar ouers en afrigter speel 'n groot rol in haar lewe en die feit dat sy op hulle kan staatmaak om haar te ondersteun, dra by tot haar sukses.

Ten spyte van die uitdagings, sou sy ander studente steeds aanmoedig om aan 'n aktiwiteit deel te neem, hetsy sport of kultuur.

"Dit verg wel baie harde werk, maar dit is definitief moontlik. Die feit dat ek albei kan doen (my atletiek en studies) en 'n geleentheid gebied word om my doelwitte en drome te kan bereik, is vir my 'n groot bevrediging. Daar is so baie mense wat nooit die geleenthede kry wat ek gebied word nie en ek sal my bes doen om 'n inspirasie vir mense te wees."