Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika Kanker-instituut en KANSA vat kanker vas
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 01/07/2016

Die Afrika Kanker-instituut (AKI) by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n vennootskap aangegaan met die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) om kankernavorsing te doen wat fokus op openbare gesondheid, primêre sorg, verpleegkunde en rehabilitasie-wetenskappe om sodoende kapasiteit te bou vir basiese sowel as gevorderde kankersorg.

Die vennootskap is op Donderdag 30 Junie van stapel gestuur by 'n kanker-navorsingsimposium by die FGGW waartydens kenners verskeie kwessies bespreek het, insluitend inenting teen servikskanker, rook en kanker, voeding as deel van kankerbestuur, befondsingsgeleenthede vir navorsing oor kanker en huidige kankernavorsing.

Die AKI is 'n koӧrdinerings- en rigtinggewende instituut vir navorsing en opleiding oor kanker aan die US, en is verbind tot die verbetering van kankervoorkoming, -diagnose en -bestuur in Afrika. KANSA, 'n nie-winsgewende organisasie, bevorder en doen ook navorsing oor kanker-risiko's, voed die publiek op oor die siekte en bied ondersteuning aan alle mense wat deur kanker geraak word.

Professor Vikash Sewram, Direkteur van die AKI, het gesê: "Die twee instansies sal saamwerk om innoverende navorsing in geselekteerde prioriteitsareas te versterk en te versnel, en kennis oor voorkoming en beheer meer toeganklik te maak vir beleidmakers en die publiek. In ag genome die diverse navorsingsplatforms van die AKI en sy internasionale en plaaslike netwerke, en KANSA se verskeie uitreik-inisiatiewe – soos die vrywilliger-programme, versorgingsdienste, tolvrye nommer, en aktiwiteite wat gesondheid bevorder – sal hierdie vennootskap die sterk punte van beide instansies saamsnoer om die ongelykhede in terme van die voorkoms van kanker en die aantal sterftes te verminder, met moontlike uitbreiding na buurlande."

Sewram het voorts gesê: "Suid-Afrika is in 'n oorgangstydperk met betrekking tot sy epidemiologiese profiel – dit verskuif tans van ʼn hoë aantal sterftes hoofsaaklik weens oordraagbare-siektes na 'n verouderende bevolking wat geraak word deur nie-oordraagbare, leefstylverwante siektes soos hartsiektes, diabetes, chroniese asemhalingsiektes, psigiatriese siektes en kanker."

KANSA se Hoof- Uitvoerende Direkteur, Elize Joubert, het gesê: "Ek is ingenome met hierdie vennootskap met die AKI wat sal bydra tot die verbetering van kankerbeheer in Suid-Afrika. Ons is van mening dat hierdie vennootskap baie waardevol sal wees in die bestuur van areas wat voorheen afgeskeep is in die veld van kanker wat verband hou met die bevordering van gesondheid, sosiaal-wetenskaplike navorsing, en navorsing oor gesondheidstelsels en dienste, rehabilitasie, fisioterapie, voeding, primêre sorg en onkologie-verpleegkunde."

"Die identifisering en voorkoming van kanker-risiko's, tesame met vooruitgang in die vroeë opsporing en behandeling van kanker, is ontluikende kritiese nasionale gesondheidskwessies wat aangespreek moet word om sodoende die lewensgehalte van Suid-Afrikaners te verbeter. Befondsing vir kankernavorsing wat ondersoek instel na voorkoming en/of openbare gesondheidsaktwiteite het so te sê geen groei getoon nie in vergelyking met befondsing vir die ontwikkeling van behandeling, wat slegs beskeie kliniese resultate opgelewer het.

"Dit sal waarskynlik meer lonend wees om navorsing oor voorkoming en sifting te verhoog. Ons het tot dusver kanker as 'n mediese probleem behandel en nou moet ons dit benader as 'n openbare gesondheidsprobleem. Kanker en al die kwessies wat daarmee verband hou het 'n aansienlike impak op openbare gesondheid," het Sewram bygevoeg.

Prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing aan die FGGW, het gesê: "Ek is ingenome met die amptelike bekendstelling van hierdie vennootskap en die moontlikhede wat dit inhou vir samewerkende navorsingsprojekte tussen die AKI en KANSA. Die FGGW en KANSA het 'n gevestigde verhouding in terme van kankernavorsing, en die US is reeds 'n geruime aantal jare betrokke by 'n heelwat navorsingstudies wat deur KANSA befonds word.

"In 2013 het die US en KANSA kragte saamgesnoer om 'n verwelkomingsete van die 2013 World Cancer Leader's Summit (WCLS) in Kaapstad aan te bied, waartydens die AKI ook amptelik bekendgestel is. Daarom sien ons hierdie volgende stap as die natuurlike vooruitgang van ons gesamentlike aktiwiteite oor 'n geruime tyd om 'n verskil te maak in die stryd teen kanker in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent.

"KANSA se missie is om navorsing te bevorder, om op te voed en te ondersteun, en hierdie oogmerke stem ooreen en is in perfekte sinergie met ons eie funksies as 'n navorsingsintensiewe universiteit wat gefokus is op navorsing en innovasie, leer en onderrig en sosiale impak. Daarom is ek baie bly oor hierdie verwikkeling en sien ek uit na 'n vennootskap wat sal groei en ons vermoë sal versterk om kanker in ons land en op die res van die kontinent te beveg."

Volgens Sewram is daar nog heelwat geleenthede vir die verbetering van openbare gesondheid met betrekking tot kanker, soos:

  • Die versterking van opsporingsaktiwiteite;
  • Die toets van gedragsintervensies wat die risiko van kanker of die terugkeer van kanker kan beïnvloed (wat bv. verband hou met die gebruik van tabakprodukte, dieet, en siftingspraktyke);
  • Die evaluasie van patrone van kankerversorging en gepaardgaande uitkomste in verskillende gesondheidsorgomgewings;
  • Die verbetering van kankerbeheerprogramme en die versterking van gesondheidstelsels om die lewering van, en toegang tot, kankersorg te verbeter;
  • Kwantifisering van omgewings- en arbeidsblootstelling aan kanker-risiko's;
  • Die toets van maniere waarop die behoeftes en uitdagings van 'n groeiende gemeenskap van kankeroorlewendes na omgesien kan word.

Die AKI en KANSA sal nou fokus op samewerkende navorsingsprojekte en die aanbied van werkswinkels en konferensies om kennis uit te brei en kankersorg te verbeter.

 

Foto: Die sprekers by die Kankernavorsing Mini-simposium was (van links na regs): prof Vikash Sewram van die Afrika Kanker-instituut, dr Delva Shamley van die Universiteit van Kaapstad, dr Melissa Wallace van KANSA, prof Nico Gey van Pittius van die FGGW, mev Megan Pentz-Kluyts 'n voeding en dieetkunde konsultant, dr Nonhlanha Dlamini from the Nasionale Gesondheidsdepartment, prof Glenda Grey van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, dr Yusuf Saloojee van die Nasionale Raad Teen Rook, en prof Usuf Chikte van die FGGW.

 

Medianavrae:

Wilma Stassen
+27 (0)21 938 9359
wstassen@sun.ac.za
Bemarking en Kommunikasie-kantoor
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe     
Universiteit Stellenbosch

Webtuiste:         www.sun.ac.za/health
Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter:           @SUhealthsci

 

Lucy Balona
+27 (0)82 459 5230
lbalona@cansa.org.za
Mediaskakeling
CANSA