Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kennis is mag in die stryd teen melanoom
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 29/06/2016

'n Melanoom-kenner van die MD Anderson Kanker-sentrum by die Universiteit van Texas in die Verenigde State, het onlangs besoek afgelê by die Universiteit Stellenbosch (US) om kennis en idees uit te ruil oor hierdie gevaarlike vorm van velkanker wat Suid-Afrikaners se gesondheid bedreig.

Tydens sy besoek aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het professor Jeffrey Gershenwald, die mediese direkteur van die Melanoom- en Velsentrum by die MD Anderson Kanker-sentrum, die lesse wat hulle geleer het oor die voorkoming en behandeling van melanoom met mediese en akademiese kollegas in Suid-Afrika gedeel.

Sy besoek aan die FGGW se Afrika Kanker-instituut maak deel uit van die Globale Akademiese Program wat geleenthede bevorder om kennis te deel en netwerke te vorm tussen die MD Anderson Kanker-sentrum en vennootinstansies oor die wêreld.

Volgens Gershenwald is voorkoming noodsaaklik in die bestuur van melanoom.

"Die hoofoorsaak van melanoom is oorblootstelling aan sonlig en binnenshuise sonbeddens," het Gershenwald gesê. Hy het ook van lesse gedeel oor die implementering van  en opvoeding- en voorkomingstrategieë om die siekte in bedwang te bring.

Tydens 'n praatjie, wat bygewoon is deur klinici in die openbare- sowel as die privaat-gesondheidsektor, het hy inligting gedeel oor sommige van die nuutste behandelingsmetodes vir melanoom.

"Dit is 'n ongekende tyd vir die behandeling van melanoom aangesien die wetenskap baie insig gekry het in die immunologie van die siekte," het Gershenwald gesê.

Geteikende immuunterapie wat die proliferasie inperk van die gemuteerde BRAF-geen (wat verantwoordelik vir ongeveer die helfte van alle melanoom-gevalle) het die oorlewingskoers van pasiënte met gevorderde siekte drasties verbeter, het hy verduidelik.

Foto: Prof Jeffrey Gershenwald van die MD Anderson-Kankersentum in die VSA het die Afrika Kanker-insituut besoek.