Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties se eertydse Landbouproduksie-kursus kry 'n moderne baadjie
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/06/2016

Nuwe studieprogram in landbou wat grond-plant-vee-ekonomie dimensies kombineer vanaf 2017 by Universiteit Stellenbosch ingestel.

​"Het jy nie daar vir my 'n weidingskundige wat oor meer as net saad sal kan praat nie, maar darem ook weet van grondkunde, veevoeding en oor wat alles besigheidsin maak?" Dìs die soort oproepe en versoeke wat dosente gereeld van voornemende werkgewers kry wat op soek is na jongmense wat poste in hul agribesighede kan vul, en sodoende hulle kan help om hul dienste aan die landboubedryf uit te brei en te verdiep.

In antwoord op hierdie behoefte vanuit die industrie kan eerstejaars aan die Universiteit Stellenbosch vanaf 2017 inskryf vir 'n nuwe BScAgric-opsie wat deur die Fakulteit AgriWetenskappe aangebied word. Daardeur word Agronomie nou gekombineer met Veekunde, Landbou-ekonomie en Grondkunde binne die oorkoepelende Gewasproduksie-fokusarea van die bestaande Plant- en Grondwetenskapprogram.

Inskrywings sluit op 30 Junie 2016.

"Die nuwe kombinasie bring die grond-plant-vee-ekonomie dimensies netjies byeen," vertel prof Theo Kleynhans, landbou-ekonomie dosent van die Universiteit Stellenbosch, en dryfveer agter die instelling van die Fakulteit AgriWetenskappe se nuwe program.

Dit is gerig op die opleiding van primêre produsente (dus voornemende boere en plaasbestuurders) wat vir die tegniese en finansieel-ekonomiese produksiebeplanning van 'n gemengde boerderystelsel sal moet sorg. Dis ook ideaal vir tegniese adviseurs aan die inset- en uitsetkant van landboubedrywighede wat kennis oor verskillende komponente van 'n boerdery nodig het.

"Mens besef gereeld hoe groot die behoefte in die plaaslike landboubedryf is na kundiges wat 'n  baie deeglike onderbou het van 'n breë reeks dissiplines – van kennis oor grondklassifikasie, bemesting en besproeiing tot oor weiding en hoe dit alles ekonomies sin moet maak," gesels hy verder. "Baie van ons studente het 'n multidissiplinêre opleiding nodig omdat hulle hulself mettertyd in 'n gemengde boerderymilieu bevind waar hulle graan en/of weiding produseer, en verder waarde toevoeg deur hulle vee."

Die nuwe program herinner aan die destydse BScAgric Landbouproduksie met Agronomie, Diereproduksie en Landbou-ekonomie as hoofvakke, wat in die 1970's en 1980's baie gewild onder US-studente én hul werkgewers was. Sedertdien bied die US verskillende BSc Agric-studieprogramme aan wat elk twee vakke kombineer, soos Agronomie saam met Veekunde, Agronomie met Landbou-ekonomie, of Landbou-ekonomie met Veekunde. Die nuwe BScAgric-program kombineer nou al drie vakke.

Gegradueerdes kan as landbouwetenskaplikes by "The South African Council for Natural Scientific Professions" (SACNASP) registreer. Hulle sal egter nie as professionele veekundiges kan registreer nie, omdat diereteling modules nie in die nuwe kursus ingesluit is nie.  

 

Aan watter vereistes moet voornemende studente voldoen?)

  • 'n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) soos gesertifiseer deur Umalusi met toelating tot baccalaureusgraadstudie (wat vereis dat minstens 50% in elk van vier skoolvakke uit die lys van universietitstoelatingsvakke behaal moet word)
  • 'n NSS gemiddelde van minstens 60% (sonder Lewensoriëntering)
  • Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 50%
  • Wiskunde 60%
  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 50%
  • Alle aansoekers moet die verpligte Nasionale Normtoetse (NNT's) aflê.

     

    Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 Junie 2016.

     

Hoe lyk die vakkeuses?

  • In jou eerste jaar verleen Biologie, Chemie, Ekonomie, Rekenaarvaardigheid, Renterekening, Veekunde en Wiskunde (Bio) aan jou 'n breë basis sodat jy jou latere studies in grond-, plant- en veekunde en landbou-ekonomie beter kan verstaan.
  • Jou tweede jaar bestaan uit Biochemie, Biometrie, Diere Anatomie en Fisiologie en inleidende modules tot Grondkunde, Dierevoedingskunde en Landbou-ekonomie.
  • Jou derdejaarsvakke is:
    • Agronomie (die verbouiing van eenjarige agronomiese gewasse en die bestuur van veld- en aangeplante weidings)
    • Dierefisiologie (die fisiologie van plaasdiere en hoe hul reproduksie werk)
    • Dierevoedingskunde (inleidende inligting oor herkouervoeding en enkelmaagvoeding)
    • Grondkunde (die genese, samestelling, klassifikasie en gebruike van gronde, asook grond- en waterbestuur)
    • Landbou-ekonomie (die bestuur, besluitneming en beplanning wat nodig is in 'n boerdery)
  • Jou vierdejaarsvakke is:
    • Agronomie (die fisiologiese en ekologiese beginsels van weiveldbestuur en die produksiefisiologie en -tegnologie wat belangrik is by eenjarige akkerbougewasse)
    • Dierevoedingskunde (meer in-diepte kennis oor herkouervoeding en enkelmaagvoeding)
    • Landbou-ekonomie (jy sal leer oor landbou- en voedselbemarking, en 'n werkstuk doen wat 'n boerderybegroting met agronomie- en veekundige komponente insluit)
    • Veebestuurskunde (intensiewe bestuurstelsels vir hoender- en varkboerderye, asook ekstensiewe bestuurstelsels vir skaap en bees).

 

Waar vind ek meer uit?

Vir meer navrae, kontak prof Theo Kleynhans by tek1@sun.ac.za of me Ghafsa Gamiet van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch by (021) 808 4833 of ghgamiet@sun.ac.za.