Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorstaander vir landelike gesondheid aan die stuur van Ukwanda
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 15/06/2016

Landelike gesondheid is meer as 'n beroep vir prof Ian Couper, die nuwe direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid. Hy is van mening dit is sy roeping.

"Ek was aangetrokke tot landelike gesondheid want ek wou 'n verskil maak in die lewens van die armes, die gemarginaliseerdes, die onderbediende en onderdruktes," sê Couper. Hy het in April by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit na 14 jaar by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), waar hy in 2002 as die eerste vol professor van landelike gesondheid in Afrika aangestel is.

"Stellenbosch het meer gedoen om landelike gesondheidsorgopleiding te ondersteun en te ontwikkel as enige ander instansie, en ek sien uit daarna om in 'n omgewing te werk waar soveel energie, hulpbronne en toewyding belê word in landelike gesondheid," sê Couper.

Die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid is in 2001 gestig by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe om opleiding op landelike platforms te bevorder sodat gesondheidsberoepslui die nodige kennis en eerstehandse ervaring kan opdoen van die gesondheidskwessies wat landelike en onderbediende gemeenskappe raak. Die sentrum bestaan uit meer as 20 landelike opleidingsplatforms in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap , en sluit die vlagskip Landelike Kliniese Skool op Worcester in.

Couper se visie is om voort te bou op die sentrum se sterk grondslag. "Dit gaan oor die groter prentjie, om Ukwanda te ontwikkel sodat dit help om die fakulteit se visie vir landelike gesondheid in alle aspekte te dryf." Hy beplan om die voorgraadse opleiding vir die mediese en aanvullende gesondheidsberoepe te verbreed, en ook verder uit te brei na ander programme en fakulteite van die US en ander universiteite. Hy wil ook nagraadse opleiding en navorsing bevorder op die landelike platforms. Navorsing is 'n hooffokuspunt en hy sien uit daarna om saam met ander dissiplines te werk.

"Ek is baie opgewonde oor die ontwikkelingsmoontlikhede. My doelwit is om die sentrum te vestig as 'n spilpunt van kennis en hulpbronne vir landelike gesondheid," sê hy.

Couper se professionele loopbaan is geheel en al gewortel in landelike gesondheid. Die vormingsjare van sy mediese loopbaan is grootliks deurgebring by die Manguzi-hospitaal in landelike KwaZulu-Natal. Gedurende sy tyd daar het hy gespesialiseer in Huisartskunde deur die Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe, toe bekend as die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa). Hy het ook ses maande deurgebring by een van die eerste sentrums vir landelike gesondheid wat gestig is by Monash Universiteit in Australië.

"In daardie dae was landelike gesondheidsentums 'n nuwe konsep, en die ervaring het my 'n visie gegee van hoe so 'n sentrum moet lyk, en waartoe dit in staat is," sê Couper.

Hy was ook een van die stigters van die Landelike Doktersvereniging (Rudasa) en het vir twee termyne gedien as die voorsitter van die Wêreldorganisasie vir Huisartskunde se werksgroep vir landelike praktyk.

In 1999 het hy verhuis na die Noordwes-provinsie waar hy by Medunsa aangesluit het, en in 2002 het hy 'n gedeelde pos opgeneem by Wits en die Noordwes Gesondheidsdepartement, waar hy gehelp het om primêre sorg en huisartskunde te ontwikkel in dié provinsie wat grootliks uit landelike gebiede bestaan.

Sy akademiese aanstelling is as 'n professor in landelike gesondheid in die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys, wat inskakel by sy passie vir die onwikkeling van toekomstige gesondheidsberoepslui vir landelike gebiede.