Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Projek Zero-inisiatief open deure tot universiteit
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 01/06/2016

Hulle moet kophou met die uitdagings wat eksamen, toetse, 'n hoë werklading en die aanpassing om 'n student aan die Universiteit Stellenbosch te wees én in 'n koshuis te bly, bied. 

Maar te danke aan die Projek Zero-inisiatief hoef 'n groep van 18 studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hulle egter nie oor finansies te bekommer nie.

Die fakulteit het in 2015 die Projek Zero-projek van stapel gestuur. Dit is 'n inisiatief om die werklike koste om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer vir talentvolle studente tot nul te verminder. Projek Zero-beurse, tesame met die Universiteit se werwing- en merietebeurse, is genoeg om die ontvangers daarvan se onderrig-, akkommodasie- en verblyfsuitgawes te dek.

Die eerste kohort Projek Zero-beursontvangers het hul voorgraadse reis in Januarie 2016 begin en die inisiatief het deure oopgemaak vir studente wat andersins sou gesukkel het om by die universiteit te studeer.

'n Beurs was Lionel Gordon se enigste hoop. Hierdie oudleerder van Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein is 'n sterk akademiese student wat met sewe onderskeidings gematrikuleer het, wat geweet het hy wil Aktuariële Wetenskap studeer en dat hy dit aan die US wil doen.

Sy droom is om suksesvol te wees: Om 'n beskeie huis en motor te kan bekostig en om te kan reis – met Frankryk, Italië en Spanje wat bo-aan sy lys van droombestemmings is.

Net 'n beurs sou dit egter moontlik kon maak. "Ek moes vir beurse aansoek doen want dit was die enigste manier hoe ek hier sou kon studeer," verduidelik hy.

Noudat hierdie droom bewaarheid is, weet hy dat net harde werk sukses sal verseker. Hy word ondersteun deur sy tannie en neef wat sy gesin geword het toe sy ma nege jaar gelede oorlede is.

Lionel geniet sy kursus en sy verblyf in Eendrag-manskoshuis. Hy sou graag eendag tot die Projek Zero-beurs wou bydra om daardeur ander te help wat, soos hy, dit nie sou kon bekostig om andersins aan die US te studeer nie.

Courtney Alexander, wat verlede jaar aan St Joseph's Marist Kollege in Rondebosch gematrikuleer het, kon nie haar oë glo toe sy die e-pos sien wat haar in kennis stel dat sy die ontvanger van die beurs is nie.

"Ek het my ma geroep om die e-pos te kom lees, want dit het net te goed geklink om waar te wees," vertel sy.

Courtney het nooit getwyfel dat sy by 'n universiteit sou studeer nie. Sy het haar passie vir rekeningkunde in graad 10 ontdek en het geweet sy wil 'n rekenmeester word.

Dit sou moeilik wees, maar sy glo haar ma – 'n onderwyseres en enkelma nadat haar pa 'n paar jaar gelede oorlede is – sou 'n plan gemaak het. Die beurs het alles verander. Sy volg nie net haar droom na nie, maar help ook haar ma deur nie by te dra tot finansiële druk nie.

Selfs op skool was haar studies haar prioriteit. "Ek het geweet harde werk sou deure oopmaak," voeg sy by.

Hierdie beursaanbieding word op grond van akademiese meriete aan SBI (Swart, Bruin en Indiër) studente gemaak. Meeste van die studente wat die beurs in 2016 aanvaar het, het vir 'n graad in Aktuariële Wetenskap (9) of Rekeningkunde (8) geregistreer.

Die reikwydte van Projek Zero sal grootliks afhang van samewerking met die Universiteit se eksterne belanghebbers om die geld waarvoor die Fakulteit intern begroot, te finansier.

Foto: Die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Stan du Plessis (links), en voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, prof Willie Conradie (regs), saam met van die Projek Zero-beurshouers. Fotokrediet: Hennie Rudman