Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vikariaat van Rome en Italiaanse regering nooi Van Niekerk as spreker by internasionale jubileum
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 31/05/2016

Prof Anton van Niekerk, uitgelese professor in Filosofie en die direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is deur die vikariaat van Rome en die Italiaanse ministerie van onderwys, universiteite en navorsing (MIUR) genooi om in Rome, Italië, aan 'n debat oor navorsingsentrums deel te neem.

Van Niekerk sal saam met ander uitgelese professore en kenners van lande soos die Verenigde Koninkryk, Pole en Kanada deelneem aan 'n debat oor die rol van navorsingsentrums om ontwikkeling en gemeenskaplike voordeel te bewerkstellig. Die debat maak deel uit van 'n groter forum genaamd "Die Jubileum van Universiteite, Navorsingsentrums, en Instellings van die Artistieke Hoër Onderwys", wat in September vanjaar plaasvind.   

"Ek was heel verbaas toe ek die uitnodiging ontvang," sê Van Niekerk oor die komende debat.

Sy navorsing het oor die jare hoofsaaklik op die gebiede van bio-etiek, die filosofie van godsdiens en die filosofie van die sosiale wetenskappe gekonsentreer. Van Niekerk, wat deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer is as iemand wat beduidende internasionale erkenning geniet, het al omvattende navorsing onderneem oor die morele problematiek met betrekking tot MIV/vigs in Afrika, etiese kwessies in verband met nuwe genetiese tegnologieë, morele teorieë, die geskiedenis en sosiale funksies van bio-etiek in Suid-Afrika, navorsingsetiek, modelle van rasionaliteit, hermeneutiek (Skrifuitlegging), kontemporêre modelle van godsdienstige geloof, en die pragmatistiese beskouing van godsdiens.

Hy is ook een van die baanbrekers in die vestiging van bio-etiek as 'n akademiese dissipline in Suid-Afrika. As een van die stigterslede van die Etiekinstituut van Suid-Afrika (EtiekSA), het hy vanaf 2000 in die instituut se direksie gedien, waarna hy in 2003 as voorsitter oorgeneem het. Van 2007 tot 2012 was hy die direkteur van die Internasionale Vereniging van Bio-etiek, en van 2001 tot 2013 lid van die Etiekkomitee van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Hy is sedert 2009 die voorsitter van die Navorsingsetiekkomitee van die Senaat van die Universiteit Stellenbosch. In 2013 het die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid hom as 'n lid van die Nasionale Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee aangestel.

Hy het reeds 19 boeke en meer as 150 portuurbeoordeelde artikels en boekhoofstukke die lig laat sien as skrywer, medeskrywer en/of redigeerder. Sy mees onlangse boeke sluit in Ethics and Aids in Africa: the challenge to our thinking (2006), Geloof sonder sekerhede (2005, gevolg deur 'n tweede, deeglik hersiene uitgawe in 2014) en Rasionaliteit en relativisme (1994). Van Niekerk is boonop 'n voormalige redakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wysbegeerte en was al uitgelese gasprofessor aan die universiteite van Oos-Carolina (VSA), Utrecht en Radboud (Nederland), Linköping (Swede), Louvain (België), Kaapstad en die Witwatersrand. 

Vanjaar se forum beraadslaag oor kennis en deernis as kernelemente van die "derde sending" van die universiteit. Van Niekerk sê sy eie praatjie sal dus in die breë op tegnologiese innovasie en morele verantwoordelikheid konsentreer.

"Ek het omvattende navorsing oor die etiek van biotegnologie en menslike verbetering gedoen. Daar is ook enorme belangstelling hierin, veral weens die ongelooflike potensiaal van biotegnologie – van die ontwikkeling van nuwe geneesmiddels wat op die geringste besonderheid van ons biologiese samestelling kan inzoem, tot hoe om die normale lewensduur van die mens te verleng," verduidelik Van Niekerk.

"Natuurlik bestaan daar ook die vrees dat die verlenging van die mens se lewe tot die ontwikkeling van 'n nuwe ras 'post-menslike wesens' kan lei. Daar is ook wydverspreide vrese dat die oënskynlike strewe na menslike volmaaktheid deur middel van hierdie nuwe tegnologieë, hernude diskriminasie teen en onverdraagsaamheid teenoor persone met gestremdhede sal kweek. Ek begryp daardie vrees," sê Van Niekerk, "maar ek glo ook dat ons sodoende 'n beter wêreld kan ontwikkel, veral op biomediese terrein. Die pogings om menslike gestremdheid reg te stel, impliseer immers nie 'n verwerping van of diskriminasie teen mense met gestremdhede nie."

Hy noem inenting as 'n voorbeeld van hoe vooruitgang in die wetenskap die menslike ras deur middel van tegnologiese innovasie verbeter het.

"Een van die mees voor die hand liggende maniere waarop ons ons leefwêreld verbeter het, is deur die verbetering van inentingsmetodes," sê Van Niekerk. "Toe ons jare gelede met stamselnavorsing begin het, was baie mense bekommerd dat dit tot die kunsmatige teling van embrio's vir stamselnavorsing sou lei. Nuwe ontwikkelings sedertdien het egter getoon dat ons vermoë om selle te manipuleer en selfs liggaamselle te herprogrammeer die behoefte aan embrio's vir die vervaardiging van stamselle uitskakel."

Namate navorsing ontwikkel, ontwikkel die etiekkomitees wat navorsingsprosesse beheer. Alle nuwe mediese en wetenskaplike navorsing word aan komiteebeoordeling onderwerp, en hulle vereistes is betreklik streng, sê Van Niekerk.   

"Hierdie komitees stel ons in staat om na te dink oor hoe ons die positiewe aspekte van vooruitgang op biomediese terrein kan bevorder; hoe ons kan verseker dat mense baat vind by vooruitgang in die mediese en biologiese wetenskappe, terwyl ons ook sorg dat wetenskaplikes in hulle navorsing aan die vereiste etiekstandaarde voldoen. As gevolg van hierdie komitees en navorsing oor bio-etiek is daar ook 'n sterker klem op die etiese opleiding van mediese personeel – iets wat nie 20 tot 30 jaar gelede gebeur het nie."

Van Niekerk sal in sy praatjie ook konsentreer op wat verantwoordelike wetenskaplike navorsing behels, en in die besonder op hoe 'n mens daardie verantwoordelikheid in navorsingseenhede aan universiteite toepas.

"Dit sal 'n baie interessante ondervinding wees," sê Van Niekerk. "Ek moet erken, ek het nog altyd in die Katolisisme belang gestel, selfs al is ek nie self 'n Katoliek nie. Hierdie konferensie is nie net 'n wonderlike geleentheid om nuwe kontakte op te bou en my netwerk uit te brei nie, maar ek sal ook die pous kan ontmoet. Dit is nie die soort ding wat jou elke dag te beurt val nie, so ek is nogal opgewonde en baie geëerd om hierdie geleentheid te kon ontvang."

Foto: Prof Anton van Niekerk, uitgelese professor in Filosofie en die direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is deur die vikariaat van Rome en die Italiaanse ministerie van onderwys, universiteite en navorsing (MIUR) genooi om in September vanjaar in Rome, Italië, aan 'n debat oor navorsingsentrums deel te neem.