Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Raadsbeginsels oor US-taalbeleid: Afrikaans bevorder én Engelse studente nie uitgesluit
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 22/05/2016

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Saterdag 21 Mei 2016 by ʼn spesiale vergadering prinsipiële vertrekpunte met betrekking tot die Taalbeleid bespreek. Daar is deur middel van konsensus of ʼn meerderheid van stemme ʼn aantal beginsels geformuleer wat aan die Taalhersieningswerkgroep voorgelê sal word.

"Die Raad se versoek aan die werkgroep is dat hierdie beginsels oorweeg word vir insluiting voordat die nuwe konsep-taalbeleid op 3 Junie by die Senaat sal dien," het mnr George Steyn, Voorsitter van die Raad, gesê.

Een van die beginsels wat met ʼn oorweldigende meerderheid aanvaar is, is dat die Engelse aanbod uitgebrei behoort te word sodat geen toegelate student van die akademiese aanbod uitgesluit word nie; dat terselfdertyd verseker moet word dat die Afrikaanse aanbod nie verminder word nie; en dat Afrikaans as onderrigtaal verder uitgebou word. Daarmee saam het die Raad hom ook uitgespreek ten gunste van ʼn verbintenis tot die ontwikkeling en bevordering van isiXhosa as akademiese taal.

"Die hersiening van die US se Taalbeleid is ʼn proses wat nog aan die gang is, en die konsep-beleid is steeds net ʼn werksdokument. Dit is ʼn komplekse saak met ʼn menigte standpunte en insette. Daarom is dit jammer dat enkele raadslede, strydig met die Raad se gedragskode, doelbewus die Raad, die Bestuur en die proses via die Afrikaanse media onder verdenking plaas," het mnr Steyn gesê. "As Raadslede is dit ons verantwoordelikheid om die belange van die US se studente, dosente en professionele akademiese en administratiewe steundienspersoneel te bevorder, en nie dié van ander belangegroepe of eksterne organisasies nie. Dit is nie produktief om op sekere elemente uit konteks te fokus nie. Die Raad het sy beginsels ten opsigte van die Taalbeleid duidelik aan die Taalhersieningswerkgroep oorgedra via die Viserektor: Leer en Onderrig, en ons sal die geleentheid hê om die volle nuwe konsepbeleid deeglik te bestudeer voordat ons dit op 22 Junie bespreek en ʼn besluit neem."

Die Universiteitsraad het by sy geskeduleerde vergadering van 9 Mei 2016 ʼn mosie aanvaar "dat ʼn spesiale raadsvergadering gehou word om bespreking te voer en insette van die Raad te kry op die Taalbeleid en dat die uitkoms van die spesiale vergadering aan die taalbeleidhersienings-werkgroep voorgehou moet word om te oorweeg voordat dit aan die Senaat voorgelê word".

Op 19 Mei 2016, twee dae voor die spesiale Raadsvergadering, het AfriForum Jeug en vyf ander applikante hul aansoek – dat die US die hersiening van die Taalbeleid moet staak – in geheel teruggetrek.

Kragtens die ooreengekome bevel van 19 Mei sal die US die bestaande taalspesifikasies toepas totdat sy huidige Taalbeleid en -plan gewysig of vervang word. Die Universiteit het egter kragtens die hofuitspraak van 11 Maart 2016 reeds op 29 Maart  teruggekeer na die implementering van die Taalbeleid van 2014 en die taalspesifikasies in die 2016-fakulteitsjaarboeke. 

Volgens mnr Steyn is die fokus van ʼn berig op die AfriForum-webblad dié naweek en gekoppelde SMS-veldtog (AfriForum Jeug wen regstryd teen US & red Afrikaans op Maties) ʼn selektiewe en eensydige rapportering van die verloop van sake. Die aanspraak in die berig dat die "uitspraak van regter Kate Savage op 19 Mei 2016 die US nou verplig om sy Taalbeleid en -plan te implementeer, sowel as die taalspesifikasies wat in die 2016-jaarboek gepubliseer is" – is egter ʼn uitspraak wat die US bykans twee maande gelede reeds aanvaar en geïmplementeer het. "Wat in dié berig verswyg word, is dat Afriforum Jeug en vyf ander applikante op 19 Mei kort voor die aanhoor van hulle aansoek – dat die US die hersiening van sy Taalbeleid moet staak  – hul aansoek in geheel teruggetrek het," het mnr Steyn gesê. "Die US kan dus ongestoord voortgaan met die hersiening van sy Taalbeleid en die Taalkomitee van die Raad kan ook sy werksaamhede voortsit."

Die Senaat en die Institusionele Forum van die US sal die nuwe konsep-beleid bespreek voordat dit op 22 Junie by ʼn geskeduleerde vergadering van die Raad ter tafel gelê word. Die Universiteitsraad bepaal die instelling se Taalbeleid met instemming van die Senaat. Indien ʼn nuwe Taalbeleid aanvaar word, is die doelwit om dit vanaf 2017 te implementeer.