Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Gimnasium maak dit maklik om aan te sluit
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 25/05/2016

​Jy wil nie in 'n tou staan om by die gimnasium te registreer nie? Jy het jou toegangskaart by die huis vergeet? Jy wil nie vir twee jaar aansluit nie?

Met 'n aanlyn registrasieproses, biometriese toegang en plooibare lidmaatskapopsies sal hierdie verskonings nie enige gewig dra by die Maties Gimnasium nie.

Die gimnasium het onlangs sy nuwe webwerf (http://matiesgym.co.za/) bekendgestel en jy kan die registrasievorm nou aanlyn invul. Klik net op die "Join us"-skakel en voltooi die vorm wanneer dit vir jou gerieflik is.

Nadat jy geregistreer het, moet jy na die gimnasium gaan om jou biometriese toegang te aktiveer. Dit is 'n eenmalige proses en gee jou toegang tot die gimnasium se fasiliteite met jou vingerafdruk.

Jy sal nie die proses hoef te herhaal wanneer jy jou lidmaatskap hernu of heraktiveer nie. Laasgenoemde twee prosesse sal binnekort ook aanlyn beskikbaar wees. Dit beteken minder moeite en meer oefentyd vir jou.

Maties Gimnasium bied wêreldklas-fasiliteite en -dienste – nie net aan professionele atlete en sportlui nie, maar ook aan studente, US-personeel en die res van die publiek.

"Enige student, US-personeellid of lid van die breër publiek kan by ons aansluit teen baie mededingende​ fooie en plooibare opsies," sê Francois Kotzé, Hoof: Fiksheid en Welwees by die gimnasium.

Volgens Francois het die Maties Gimnasium 'n wye verskeidenheid toerusting beskikbaar, en om dit selfs meer aantreklik te maak, kan studente en US-personeel teen spesiale tariewe aansluit. Afslag van 15% op gewone tariewe is beskikbaar vir studente en universiteitspersoneel betaal 25% minder. Maties Sport-klublede kry 20% afslag. Die lengte van 'n kontrak kan van so kort as een maand tot 12 maande wees. 

Vind die nodige inligting oor registrasie, klasse, skedules, pryse, ens. by http://matiesgym.co.za/