Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visedekane werk vir gehalte gesondheidsorg vir almal
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 18/05/2016

​"Visionêre leiers" is hoe prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Universiteit Stellenbosch (US), die twee Visedekane beskryf wat onlangs by die fakulteit se bestuurspan aangesluit het.

Dr Therese Fish, wat vir twee termyne gedien het as die Visedekaan: Gemeenskapsdiens- en Interaksie, is heraangestel in dieselfde portefeulje, wat nou bekend staan as Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak. Prof Julia Blitz, wat sedert 2011 'n medeprofessor in die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg is, is aangestel as Visedekaan: Leer en Onderrig. Blitz neem die leisels oor by prof Marietjie de Villiers wat voorheen die portefeulje van Visedekaan: Onderrig gehad het. 

Vir haar volgende termyn beoog Fish om bestaande vennootskappe te versterk. "Die belangrikheid van toegewyde vennootskappe moet nie onderskat word nie om te verseker dat as 'n fakulteit ons navorsers en graduandi bydra tot 'n gesondheidstelsel wat algehele gesondheidsorg bevorder," sê Fish, wie bygedra het tot die ontwikkeling van die eerste Landelike Kliniese Skool in Suid-Afrika.

"My visie vir hierdie pos is om ons aktiwiteite te belyn met beide internasionale en nasionale gesondheids- en ontwikkelingsagendas. Dit resoneer met die herposisionering van die universiteit se sosiale impakbeleid waardeur die universiteit homself verbind tot die wederkerige beïnvloeding en motivering van belanghebbendes beide in die universiteit en in die gemeenskap in die strewe na billike sosiale verandering," sê Fish.

Sy is 'n opgeleide mediese dokter (MB,ChB) en het ook 'n Meestersgraad in Ondernemingsadministrasie (cum laude) van die US. Sy het ook 'n kursus in Gesondheidsbeleid en –beplanning by die Nuffield-instituut van Gesondheid in Leeds, Verenigde Koninkryk, 'n Gesondheidsorgfinansieringskursus by die Universiteit van Kaapstad, en 'n Diploma in Gemeenskapsgesondheid by die US voltooi.

Blitz is van mening dat haar agtergrond in Huisartskunde en 'n kwarteeu se ervaring in verskillende rolle in die akademie haar voorberei het vir haar nuwe rol as Visedekaan: Leer en Onderrig. Sy het 'n BSc- en MB,ChB-graad van die Universiteit van die Witwatersrand, asook 'n Meesters in Prax Med van Medunsa en 'n nagraadse sertifikaat in Hoër Onderwys van die Universiteit van Pretoria.

"Hierdie fakulteit het 'n gevestigde tradisie van ondersteuning vir leer en onderrig, wat ons in 'n goeie posisie plaas om op die huidige uitdagings in beide die gesondheidstelsel asook die Suid-Afrikaanse hoër onderwysomgewing te reageer. Ons het ook 'n sterk tradisie van navorsing wat ons in staat stel om bewysgebaseerde onderrig te lewer wat relevant is tot ons konteks," sê Blitz.

"Dit is ons plig om die behoefte aan te spreek vir doelgepaste mediese- en gesondheidswetenskappegraduandi vir ons land. Om dit te kan doen, moet ons die proses van kurrikulumhernuwing volhou sodat ons die nodige uitkomste en vaardighede kan identifiseer, en ook doeltreffende metodes van toepasleer bevorder. Dit is belangrik dat ons verhoudings koester wat gegrond is op vertroue, respek en samewerking sodat ons innoverende onderrigaktiwiteite kan ontwikkel wat kan reageer op behoftes..

"Ek sien uit daarna om met onderrigpersoneel, steunpersoneel en studente te skakel terwyl ons ons missie nastreef om graduandi te produseer wat in staat en gewillig is om die gesondheid en gelykheid van Suid-Afrikaners te bevorder," sê Blitz.

Foto: Prof Julia Blitz is aangestel as Visedekaan: Leer en Onderrig en Dr Therese Fish is heraangestel as Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak