Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dekaansmedalje vir natuurwetenskappe se topstudent
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 17/05/2016

’n Voormalige hoofmeisie van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, Melise du Toit, is die ontvanger van die dekaansmedalje as die beste honneursstudent in 2015 in die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US).

Hierdie medalje van egte silwer word jaarliks toegeken aan ’n honneursstudent wat die hoogste gemiddelde persentasie gedurende beide die BSc-, sowel as die HonneursBSc-program gehandhaaf het.

Melise het voorgraads toegepaste wiskunde as hoofvak gehad en dit reggekry om deurentyd ’n gemiddeld van 81% te handhaaf. In haar honneursjaar het sy ’n gemiddeld van 91,6% behaal.

Haar susksesresep?

“Ek het nege onderskeidings in matriek gekry, omdat ek geweet het dat ek hard moet werk vir ’n beurs om aan die Universiteit Stellenbosch te kan studeer. Maar die groot hoeveelheid werk op universiteitsvlak, is iets waarop niemand jou kan voorberei nie. ’n Aanleg en passie vir wiskunde sal ’n bietjie help, maar ek moes regtig baie hard werk.”

Sy sê dat dit in haar geval baie gehelp het om ’n groep vriende te hê wat saam studeer en mekaar motiveer.

Vir die volgende twee jaar sal sy ’n internskap doen in die navorsingsgroep van die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) in Stellenbosch wat fokus op modellering en digitale wetenskappe. Die internskap bestaan uit navorsing vir ’n MSc in toegepaste wiskunde aan die US, onder leiding van prof. Francois Smit en dr. Josefine Wilms. Die eerste vier jaar van haar studies is ook deur die WNNR gefinansier.

Haar MSc sal fokus op een aspek van die eerste Afrika-gebaseerde klimaatsveranderingsmodel wat deur die WNNR ontwikkel word. Sy verduidelik: Een aspek van hierdie model is die model-gegenereerde interaksie tussen landoppervlak en water. Ek sal fokus op die modelling van die vloei van water vanaf die landoppervlak na die riviermonde. Die idee is om die bestaande fisiese model te oorweeg end an ’n data-gedrewe model (masjienleer) toe te pas ten einde die akkuraatheid van die model se resultate te verbeter. Dit sal lei tot meer betroubare en akkurate voorspellings van toekomstige veranderings in riviere se afloop.”

“Ek is werklik dankbaar dat ek ’n loopbaan kan volg in ’n vakgebied waaroor ek baie passievol is,” voeg sy by.

Op die foto, Melise du Toit (regs) ontvang die dekaansmedalje van Prof. Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US.